MELANZANNE ALA PARMIGIANNA
Dit was heerlik!!!!! Uiteindelik is ek ook hier met my eiervrug gereg!! Melanzanne alla Parmigianna. Dit het langer geneem want ek het my tamatie sous met vars tamaties en pasatta gemaak voor die tyd. Dis ‘n eenvoudige resep.
Braai of rooster die eiervrug skywe in olyfolie tot ligbruin en hou eenkant. Maak die tamatie sous: braai uie, knoffel en 1 teelepel gedroogde oregano liggies tot uie deurskynend.
Gooi nou 1 koppie pasatta tamatie sous by en 4-5 vars ryp tamaties waarvan die skille verwyder is (grof opgekap). Prut die sous vir ongeveer halfuur na ‘n uur (as jy te haastig of lui is gebruik geblikte tamaties maar dit moet nog steeds vir ‘n rukkie gekook word om die geur te kry).
Geur nou die sous met sout en pepper na smaak (ek sit ook 1 teelepel bruin suiker by om die suur te neutraliseer). Gebruik die sous netso of maak fyner met ‘n hand menger (stick blender).
Maak intussen ‘n medium dikte kaassous van 1 tot 1 en half koppies melk. Wanneer die witsous dik is roer 1/2 koppie fyn Parmesan kaas by. Pak die eiervrug skywe onder in ‘n oondbestande bak, gooi tamatie sous oor (jy hoef nie al die sous te gebruik nie, dit mag te veel wees) en laaste die witkaas sous. Meng 1/4 koppie elk gedroogde broodkrummels en fyn Parmesan kaas en strooi bo-oor.
Bak by 180 grade C vir ongeveer ‘n halfuur. Rooster net lank genoeg onder die rooster element om die gereg ‘n ligte kleur te gee en die krummels krakerig te maak. Bedien met ‘n groen slaai en ciabatta om al die lekker sous mee op te mop!
Foto en resep geplaas deur Elsabie Templeton









