

SKAAPNEK POTJIE
8 stukke skaapnek so 15 mm gesny
2 middel grootte uie in ringe gesny
5 groot wortels in ringe gesny
4 groot aartappels in kwarte gesny
1 groot groen soetrissie opgesny in stukke
500 ml GOEIE ROOIWYN
50 ml kookolie
30 ml knoffel in olie
15 ml braaispeserye
7.5 ml sout
5 ml grofgemaalde swartpeper
15 ml gedroogde pietersielie
Braai die skaapnek, ‘n paar op ‘n keer in die olie in ‘n swartpotjie op matige kole, roer aanhoudend om te verhoed dat dit brand tot ‘n lekker bruin kleur, hou eenkant. Braai die uie en soetrissie uit in die vleisolie en sit die vleis terug in die pot saam met die uie en soetrissie. Voeg al die speserye by, en braai vir 5 minute. Gooi nou 250 ml rooiwyn en 500 ml kookwater, die aartappels en wortels by en laat prut vir 2 ure of totdat die vleis sag en gaar is. Meng 50 ml beesstert soppoeier met ‘n bietjie water en voeg dit by die potjie. Laat prut tot die sop deurgekook het.
Bedien met stampmielies.
Die ander 250 ml GOEIE ROOIWYN? – ’n mens se keel raak mos droog van sit langs die vuur om die potjie dop te hou dat dit nie brand nie, so daar moet iets gehou word om die keel mee nat te maak… ek sal maar hou by my whisky.
Foto en resep deur Wilma Josey Venter






