

MAAS EN GROEN VYE ROOMYS MET WILSON TOFFIE SOUS
(maak 2 liter roomys)
750ml room
1 flessie groenvye in stroop
8 vryskrop eiergele
750ml maas
Verhit die room tot dit begin lyfskud in die kastrol. Voeg die stroop van die vye by. Klits die eiergele en gooi ‘n skeut van die roommengsel by die eiers, roer en gooi die eierkonkoksie dan in die room. Verhit baie mooi saggies en klits die hele tyd met jou ballonklitser.
‘n Wonderlike oomblik breek aan wanneer jy sal sien jy het ‘n vla gemaak. Sit die stoof af en gooi die maas by.
Kap die vye halfhartig en roer dit ook in die besigheid. Indien jy baie gelukkig is, het jy ‘n roomysmaker.
Giet die mengsel in die masjien en raadpleeg die handleiding van hier af. Indien nie, gooi dit in ‘n plastiekbak; druk in die vrieskas.
Haal dit elke 2 uur uit en klop/breek die yskristalle.
Haal dit 10 minute of so voor bediening uit die vrieskas, om jou polse te spaar met die opskepslag. Wilson Toffeesous
Vat ‘n hele pakkie Oorspronklike Wilsontoffies en begin om die papiertjies af te haal. Verhit intussen 125ml room in ‘n klein kastrolletjie. Die room sal warm wees lank voor al die papiertjies af is, maar nou ja, alles kom teen ‘n prys… Ewenwel, sodra al die toffies bevry is, gooi jy hulle in die room.
Sit die stoof af. Maak asof jy van hulle vergeet, net om terug te kom en almal lieflik gesmelt te bevind: gereed om oor die roomys te gooi. Soet, Suid-Afrikaans en lekker!
Bron: Petro Lotz






