

BILTONGTERT
Lewer 1 tert van 23 cm
KORS
165 g koekmeel
100 g heelgraanmeel (Nutty Wheat)
2 ml (½ teelepel) sout
100 g botter
250 g roomkaas
VULSEL
500 ml (2 koppies) melk
25 ml (5 teelepels) ui, gerasper
1 lourierblaar
2 naeltjies
25 g botter
20 g koekmeel
sout en vars gemaalde peper na smaak
1 eier, ongeskei
2 eiers, geskei
125 g cheddarkaas, gerasper
250 g biltong, in skryfies gesny
Voorverhit die oond tot 200 °C.
Smeer ’n tertpan van 23 cm.
Kors:
Meng die koekmeel, heelgraanmeel en sout in ’n mengbak en vryf die botter met jou vingerpunte in.
Voeg die roomkaas by en meng deeglik. Voer die tertpan daarmee uit en bak 12-15 minute blind.
Vulsel:
Verhit die melk, ui, lourierblaar en naeltjies saam. Laat dit 10 minute trek en giet deur ’n sif.
Smelt die botter in ’n kastrol en roer die meel by. Hou aan roer tot dit kook.
Voeg die warm melk, sout en peper stadig by terwyl jy aanhou roer.
Laat prut tot dit verdik. Verwyder van die hitte.
Klits die heel eier saam met die eiergele en roer dit bietjie vir bietjie by die witsous.
Voeg die kaas en biltong by en meng goed.
Klop die eierwitte tot die sagtepuntstadium en vou dit by die mengsel in.
Skep dit op die tertbasis en bak 45 minute tot die vulsel goudbruin is en uitgepof het.
Strooi biltongskyfies oor en sit die tert warm of koud voor.
Resep geplaas deur Dirk Reload
Bron: Nellie de Koker van Pretoria
Foto: Alettha Rust






