

BASIESE BROODDEEG (wenner – brood week)
Hierdie resep noem ek my DKW (dans, kerk en werk) brooddeeg, omdat ek dit vir ALLES gebruik.
Vir die brood op die foto, lees die nota onder aan asb?
1 liter louwarm water
1/8 koppie asyn (30 ml)
1/8 koppie suiker (30 ml)
½ koppie olie + nog ½ koppie olie om mee te knie
2 eetlepels sout
22 g kitsgis
12 koppies koekmeel
Meng die kitsgis, ½ koppie olie, louwarmwater, asyn, suiker en sout en laat staan tot die mengsel skuimerig word.
Indien dit nie skuimerig word nie, is die gis oud en nie die moeite werd om meel op te mors nie.
Voeg nou die 12 koppies meel by die mengsel en knie goed deur vir 20 minute terwyl jy die ½ koppie olie geleidelik in knie, bietjie vir bietjie.
Maak die bol deeg mooi glad bo op en smeer met ‘n bietjie olie.
Maak toe met plastiek en laat op ‘n warm plek rys tot dubbel die volume.
Knie die deeg af en gebruik waarvoor benodig word.
Ek maak 400 g pakkies op in ziplock sakkies en druk dit mooi plat sodat daar heelwat sakkies bo op mekaar kan pas. Vries die deeg en haal die aand voor gebruik uit en ontdooi in die yskas.
Knie die ontdooide deeg en laat om te rys.
Gebruik soos gewoonlik
Die resep was oorspronklik Kobie Adams sin, maar ek het dit oor die jare aangepas.
Ek het 400 g van die brooddeeg gevat en ‘n bal gemaak…. in ‘n gesmeerde pan gedruk en vierkante in die deeg gedruk met ‘n mes toe sesame saad en black seeds oorgestrooi en vir 40 min op 170ºC in die gasoond gebak.
Resep en foto: Corne Liebenberg






