SEEKOS CHOWDER
genoeg vir 6
450 g gemengde skulpvis, soos mossels en garnale, skoongemaak
6 strepies swoerdlose rugspek, in 5 cmblokkies gesny
15 ml (1 eetlepel) olyfolie
1 middelslag-prei, gewas en in ringe gesny
1 groot ui, in klein blokkies gekap
1 knoffelhuisie, gekneus en fyn gekap
30 ml (2 eetlepel) koekmeel
750 ml (3 koppies) groente- of visaftreksel
500 ml (2 koppies) melk
bouquet garni van 6 pietersielietakkies, 2 tiemietakkies en ’n lourierblaar, vasgebind
6 middelslag-aartappels, geskil en in 5 cmblokkies gesny
sout, neutmuskaat en swartpeper
150 ml room
675 g vars vis soos monkvis, koningklip, stokvis en salm, grate en vel verwyder
’n hand vol gekapte en gemengde vars pietersielie en grasuitjies
Gebruik ’n middelslag-kastrol en bring genoeg water om net die boom te bedek tot kookpunt. Geur met sout en sit die mossels en garnale in die kokende water. Maak toe en laat die skulpvis vir sowat 5 min. gaar stoom. Die garnale sal helder pienk verkleur as dit gaar is. Haal die skulpvis uit, maar hou vloeistof tot later. Gooi mossels weg wat nie oopgegaan het nie.
Verhit die olie in ’n kastrol en soteer die spek tot bros. Verlaag die temperatuur en sit die preie, uie en knoffel by, soteer tot sag. Roer die meel by en soteer vir nog ’n min. of twee. Giet aftreksel en skulpviswater by.
Sit die melk, bouquet garni en aartappels by. Geur na smaak. Bedek en prut tot die aartappels sag is.
Sny intussen die vis in happiegrootte stukkies. As aartappels sag is, maar nie pap nie, sit die vis by. Prut vir 3 – 4 min. en sit die skulpvis en room by, roer deur.
Laat die sop nét opkook en haal van die hitte af. Proe en geur weer. Strooi die vars kruie oor en sit dadelik met vars brood voor.
Resep: Louise Groenewald








