

BEESVLEIS EN ROOIWYN PASTEI
Kook bredie vleis saam met uie, sout en peper, en ‘n paar naeltjies tot so sag dat dit van bene afval. Ek stoom dit gewoonlik vir ten minste 45 minute.
Maak dit uitmekaar en hou die water eenkant.
Haal die uie uit die sous met ‘n dreineringslepel en sit dit by die fyngemaakte vleis.
Hou bietjie van die vleissous in die pot en plaas die vleis en uie terug. Bring tot kookpunt en voeg ongeveer 150 ml rooiwyn by.
Bring weer tot kookpunt en voeg by:
2 teelepels Worcestersous
2 teelepels tamatiesous
1 teelepel droë tiemie
2 lourierblare
Laat prut totdat die vloeistof met helfte verminder het en voeg gekerfde sampioene wat vooraf liggies in botter gebraai is by.
Verdik nou die sous met 2 eetlepels Bisto gemeng in ‘n klein bietjie koue water en plaas oor in pasteibak.
Ek gebruik wat ek noem ‘n:
SAGTE PASTEIDEEG
Sif 4 eetlepels meelblom, 2 teelepels bakpoeier en ‘n knippie sout saam.
Vryf 2 eetlepels botter of margarien daarby in met die vingerpunte of gebruik ‘n voedselverwerker.
Voeg een koppie melk en 1 liggies geklitste eier by en meng tot ‘n slap beslag.
Gooi dit oor die warm vleis in die bak en bak ongeveer 15 minute by 200ºC of tot goudbruin.
Altwee is my eie resepte – Adam Cloete






