
TURKSVYBLADKONFYT
Dit word gekook van die groot, dik turksvyblaaie waaraan daar nog nie vrugte is nie.
Skil elke blad dun af – die vleis moet mooi heel bly – en sny die harde “stam”uit
Prik die hele blad. Weeg die blad en spoel dit skoon af onder lopende koue water. Sny dit in 2cm-blokkies op.
Maak ‘n oplossing van 15ml gebluste kalk per 125l iter water. Laat staan tot die vloeistof helder is.
Giet die helder vloeistof af en gooi die afsaksel weg. Laat die blokkies oornag in die oplossing le en sit ‘n gewig bo-op sodat die blokkies met die vloeistof bedek is.
Spoel die blokkies die volgende oggend onder lopende koue water af en laat dit minstens ‘n uur in vars koue water le. Dreineer die blokkies, bedek dit met vars water en kook dit so sag dat ‘n vuurhoutjie maklik daardeur gaan. Dreineer die blokkies goed.
Kook die stroop soos volg:
Vir elke 500 g turksyblad is nodig 1 liter water, 500 g witsuiker, 15ml suurlemoensap en ‘n paar knoetse gedroogte gemmerwortel wat gekneus en in ‘n stukkie kaasdoek toegebind is
Verhit die mengsel tot kookpunt en roer dit aan die begin tot die suiker opgelos is. Plaas die blokkies bietjiegewys in die stroop en kook dit matig vinnig sonder ‘n deksel totdat dit helder deurgekonfyt en die stroop dik is. (Die stroop moet ‘n swaar druppel van die lepel af val as dit getoets word)
Skep die blokkies in skoon voorbereide inmaakflesse, bedek met die stroop. Voeg indien nodig ekstra stroop by wanneer afgekoel het, en verseël die flesse.






