MAMMA SE GAMMON-HAM IN DEEG
‘n Heerlike manier om ham / gammon gaar te maak.
Het nou net met my ma gepraat en sy sê, sy het die resep jare gelede by ‘n ou tannie gekry en mens moet maar self besluit hoeveel jy van wat nodig het, afhangende hoe groot jou ham is.
Meng broodmeel en koekmeel met genoeg water om ‘n stywe deeg te vorm. Rol die deeg redelik dikkerig uit en pak die ham in die middel van die deeg.
Vou die deeg om die ham en seël die deeg deeglik reg rondom die ham, sodat die stoom nêrens kan ontsnap nie!
Bak die ham vir 3 ½ tot 4 ure in die oond teen 180ºC (afhangende natuurlik weer hoe groot die ham is).
Haal die ham uit die oond, kap die deegkors oop en verwyder die ham uit die deegkors (oppas vir die stoom, dis baie warm). Proe nou eers so paar stukkies van die heerlike vars-uit-die-oond vleisie en vetjie, yum yum.
Meng broodkrummels met gesmelte botter en pak die krummels oor die bokant van die ham, plaas dit terug in die oond en bak tot goudbruin bo-op. Versier die ham met kersies en pynappel of watookal jy verkies.
Nota – Hierdie ham kom so sag uit dat my ma altyd die bak voor ons moes kom wegneem anders was daar nie ham oor vir kersdag en die ander dae wat volg nie.
Resep: Eleanor Steyn (Sonja Young)