TREFFER JOGURTKOEK
125 g botter (180 g)
180 ml (¾ koppie) suiker (285 ml)
2 eiergele (3 eiergele)
2 ml koeksoda (3 ml)
125 ml natuurlike jogurt (180 ml)
250 ml koekmeel (375 ml)
2 ml bakpoeier (3 ml)
Knippie sout
3 eierwitte (3)
5 ml vanilla geursel (7 ml)
100 g donker sjokolade, in stukkies gebreek (100 g)
30 ml melk (45 ml)
Bolaag:
60 g botter (90 g)
125 ml suiker (180 ml)
45 ml room (65 ml)
125 ml klapper (185 ml)
2 ml vanilla geursel (3 ml)
Voorverhit die oond tot 180⁰C.
Smeer ‘n losboomkoekpan van 20 cm met botter of margarine. Of bespuit met kleefwerende kossproei.
Klits die botter tot romerig en voeg die suiker bietjies-bietjies by terwyl aanhoudend geklits word. Voeg die eiergele een-een by en klits goed na elke byvoeging. Los die koeksoda in die jogurt op en voeg by die bottermengsel. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout oor die mengsel en vou in. Klits die eierwitte totdat sagte punte vorm en vou by die mengsel in. Voeg ook die vanilla geursel by.
Skep die beslag in die voorbereide pan en maak bo-op gelyk. Smelt die sjokolade en melk saam en skep oor die beslag in die pan. Bak 40-60 minute lank tot gaar en ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
Plaas die botter, suiker en room vir die bolaag in ‘n klein kastrol en verhit totdat die suiker gesmelt het. Voeg die klapper en vanieljegeursel by en meng goed. Skep oor die warm koek in die pan en rooster onder die roosterelement van die oond totdat dit begin verkleur.
Laat die koek effens in die pan afkoel en keer op ‘n draadrak uit om verder af te koel. Bêre in ‘n digte houer.
Lewer 1 klein koek.
VIR DIE GROTER KOEK (Hoeveelhede in hakkies)
Voorverhit die oond tot 160⁰C en bak die koek vir 60 min
Resep en foto: Judy Bester








