GROENTE-DEEL 2
BEET
As die beetvlek op ‘n kledingstuk is, gooi ‘n bietjie melk op die vlek en laat week in koue soutwater. Was dan in warm seepwater.
Om beetvlek op ‘n mat te verwyder gebruik gliserien met ‘n spons in te vryf en dit dan met warm seepwater te was.
‘n Eetlepel asyn by die water sal beet gou laat sag kook.
Om te verhoed dat beet oorkook, voeg ‘n mespunt botter by.
BLOMKOOL
Kook blomkool in melk en plaas van water om die smaak te verbeter. Die melk kan dan vir die witsous gebruik word.
Sit ‘n stukkie suurlemoenskil of bietjie suurlemoensap in die water as jy blomkool kook. Dit hou die blomkool mooi wit.
KNOFFEL
As jy ‘n sterk knoffelsmaak in jou gereg wil hê, gooi dit aan die einde van die gaarmaakproses in.
Vir ‘n minder sterker smaak, gooi die knoffel aan die begin in.
Om knoffelasem te verwyder, kou vars mint, pietersielie of seldery.
Sny knoffel fyn en gooi in kookolie in klein houertjies. Kan baie lank so in yskas gebêre word.
Die olie kan agterna weer gebruik word wat klaar knoffel geur het.
PAMPOEN
Om ‘n gesnyde pampoen vars te hou, verwyder die pitte en bedek die binnekant met ‘n lagie koeksoda.
Om te verhoed dat die hande vlek wanneer pampoen geskil word, smeer die hande vooraf met bietjie botter of vet.
PATATS
Stowe patats kry ‘n mooi kleur as ‘n mespunt koeksoda bygevoeg word terwyl dit kook.
RADYSE
Skud radyse in ‘n fles vol water om hulle deeglik te was.
TAMATIES
As tamatie- en uiemoes gemaak word vir braaivleis of ander geregte, gooi ‘n kwart koppie melk op die end by en roer goed. Dit voorkom sooibrand by die mans.
‘n Knippie kerriepoeier by tamatiesop verbeter die smaak.
Tamatiesous –
Gebruik 2kg Tamaties waarvan die kern en pitte verwyder is, 2 koppies suiker, kwart koppie appelasyn, half teelepel sout.
Versap die bestandele saam en kook by ‘n lae hitte vir ongeveer 1 uur. Roer gereeld.
Gooi deur ‘n sif om stukkies te verwyder Voeg 1 verpoeierde Vitamien C tablet by om die kleur te behou.
Vries of lê die tamatiesous in vir latere gebruik.
Rissiepoeier of paprika kan voor die kook proses bygevoeg word vir smaak.
SLAAIKOPPE
Maak verlepte slaaiblare weer bros deur dit in ‘n bak yskaswater te plaas; nie yswater nie.
Slaaikoppe bly langer vars in die yskas in papiersakke, nie plastieksakke nie.
UIE
Gooi ‘n bietjie asyn of suiker by uie wat gesmoor word. Dit sal ‘n lieflike ligbruin kleur en ‘n aangename geur aan die uie verleen.
Om te voorkom dat uie wat bewaar word uitloop, kan die worteltjies in kookwater gebrand word voordat dit opgehang word.
BRON- BOERERATE & VERBRUIKERS-WENKE







