

SJOKOLADE KOEK SONDER KORING
Resep: Lynn Coetzee
Foto: Rina Kleinhans
FOOD LOVERS RECIPES
5 groot eiers
375 ml suiker
375 ml rogmeel (rye)
125 ml mielieblom
83 ml kakao
15 ml bakpoeier
125 ml olie
75 ml melk
175 ml kookwater
Klits die eiers en suiker saam in ‘n groot bak totdat dit dik en romerig is, sowat 5 – 8 minute. Sif die droë bestanddele deeglik saam. Ek het dit 3 keer gesif en weer in die bak bo-oor die eier mengsel gesif. Meng die droë mengsel liggies saam met die eiers totdat dit alles gemeng is. Meet die olie, melk en water in ‘n beker af, roer saam en voeg by die mengsel. (Ek sit gewoonlik die bakpoeier bo op die mengsel en giet dan die nat bestanddele oor. Dit skuim baie en kan maklik ingevou word.)
Vou die mengsel saam tot goed gemeng. Skep in twee ronde bakpanne wat gevoer en gespuit is. Bake vir 30 minute lank by 180ºC.
Vulsel: Sommer maklik om te maak
250 ml vars room
jou gunsteling blok sjokolade
Klits die room tot styf. Smelt die sjokolade in die mikrogolf. Meng die twee saam en smeer tussen die twee lae koek wat afgekoel is. Ek het van die vulsel gehou om torings bo-op te maak.
Versiering – Fudge
62 g medium vet margarien
83 ml kakao
375 ml versiersuiker
kookwater
Smelt margarien in mikrogolf – 30 sekondes. Roer kakao goed daarby. Sit so 15 ml kookwater by en roer tot glad. Voeg die versiersuiker by en roer totdat dit ‘n gladde mengsel is. As dit te styf is, sit meer water by of meer versiersuiker as te slap. Dit moet soos “fudge” wees.
Smeer die versiering om en bo-op die koek. Ek het torings bo-op versier en sommer ekstra sjokolade mee gespeel en patrone gemaak. Die probleem met die koek was dat almal nog wou eet en die mensie vir wie dit eintlik gemaak was het slegs twee dun snye gekry!






