LEKKER PANNEKOEK
Hierdie is die enigste ene wat ek ken. Vermeerder soos wat dit vir jou mense nodig is – die ene lewer so 20 lekker groot pannekoeke.
3 koppies koekmeel
2 knippies sout
2 teelepels bakpoeier
4 koppies water
2 eiers
3 teelepels asyn
6 teelepels olie
Sif die droë bestanddele drie maal saam (dit help glo dat die pannekoeke nie te swaar is nie, en ek sif dit nou al vir 20 jaar 3x!) en maak ‘n holte in die die meelmengsel.
Meng die water, eier, asyn en olie en voeg geleidelik by die meelmengsel terwyl jy dit meng met ‘n houtlepel of elektriese klitser. Laasgenoemde is baie minder moeite. Laat minstens ‘n halfuur staan (ek laat dit sommer ‘n uur staan) en klits dan weer voordat die pannekoeke gebak word.
Ek gebruik ‘n koperboom pan vir my pannekoeke. Maak seker dit is lekker warm. Vir die eerste ene, gooi ek bietjie olie in die pan, maar rerig BAIE min. Daarna het ek ‘n stukkie servet of tissue wat ek in die olie (in ‘n koppie) druk en dan vee ek net die pan daarmee voordat ek ‘n soplepel vol beslag daarin gooi. Die eerste twee flop gewoonlik omdat ek nie die pan kans gee om behoorlik warm te word nie. Geduld werk nie hier nie. Maar die worsies geniet die floppies!
Jy kan natuurlik jou pannekoeke vul met enige ding wat lekker is. Kaneelsuiker en stroop is vir my bo aan die lys vir pure lekkerte.
‘n Maalvleis-mengsel (selfs kerrie as jy wil) werk wonderlik om dit in ‘n ete te omskep. Vul die pannekoeke met jou vleismengsel, pak dit in ‘n oondbak en strooi gerasperde kaas oor, bak vir so 10 minute, en jy het ‘n lekker ete. Met roomys en piesangskywe vir ‘n nagereg is uit die boeke.
Nettie Theron Louw







