

SAMPIOEN EN VARKVLEIS WORSROLLETJIES
30 ml olie
400 g sampioene, fyn gekap
400 g varkmaalvleis
6 sprietuie, fyn gekap
2 eiers
250 ml vars broodkrummels
125 ml gekapte pietersielie (opsioneel)
sout en varsgemaalde swartpeper
3 rolle gekoopte blaardeeg, ontdooi
30 ml sesam- of papawersaad
soet brandrissiesous (opsioneel
Voorverhit die oond tot 180°C.
Verhit die olie in’n braaipan en braai die sampioene tot al die vloeistof weggekook het.
Voeg die maalvleis by en roerbraai dit tot gaar. Voeg die sprietuie by en braai dit nog ‘n paar minute. Laat dit afkoel.
Voeg een eier, die broodkrummels en pietersielie by en meng goed. Geur dit met sout en peper.
Klits die ander eier liggies. Verf die rande van elke vel deeg met geklitste eier en sny die deegvelle in die helfte. Verdeel die vulsel eweredig tussen die deegvelle.
Vorm die vulsel in ‘n wors op die een lang sy van elke deegvel en rol dit op. Druk dit goed vas.
Verf die rolle met geklitste eier, strooi die sesam- of papawersaad 00r en sny elke rol in 8 kleiner rolletjies.
Rangskik dit op gesmeerde bakplate. Bak dit 20 minute of tot goudbruin.
Variasie : Vervang die varkvleis met hoendermaalvleis.
Adele Van Zyl Filmalter
Foto: Adam Cloete






