

BEESBOUD OP ‘N SPIT
Mengsel om mee in te spuit:
2 kg botter
2,5 liter druiwesap
2 pakkies Aromat
4 teelepels peperkorrel pasta
6 vars lourierblare
1 bossie vars mint
1 bossie vars tarragon
6 teelepels gemengde kruie pasta
2 pakkies tamatiepasta
8 heel naeltjies
3 eetlepels knoffelpoeier
20 ml mosterdpoeier
10 ml roosmaryn
30 ml koljander
15 ml tiemie
½ koppie sout
Plaas die druiwesap en botter in ‘n groot pot en bring tot kookpunt.
Voeg res van die bestanddele by en roer tot sout opgelos het.
Kook vir 5 min. Laat oornag staan sodat die kruie kan trek.
Dreineer die mengsel die volgende dag deur ‘n sif.
Glaseersel:
200 g mintjellie
130 g heuning
125 ml Worcestersous
15 g vars peperwortel, fyn gerasper
1 teelepel tiemie
1 klein bottel OXO smeer of bovril
Verhit alles in ‘n potjie tot gesmelt, kook 5 min en laat afkoel.
Maak ‘n groot vuur in die kolebak (ek het 3 sakkies brikette gebruik om mee te begin).
Maak boud ordentlik vas op die spit en braai die boud tot 60ºC as jy met n vleis termometer meet, 12 cm in die dik vleis in.
Spuit die boud deeglik met die “spuit mengsel”, die hele mengsel word gebruik, daar moet niks oorbly nie (verhit die mengsel eers).
Braai nog ‘n uur en bedruip met glaseersel vir die volgende uur, gebruik dit ook op.
Maak die spit oop, vat die meeste kole weg en laat die spit steeds draai vir 30 min.
Sny dun skywe en bedien.
Wenke:
Maak die vuur vroeg dat die kole baie warm is wanneer jy die boud opsit.
Hou die vuur baie warm, anders kan die boud vrot word in die middel teen die been.
Sorg dat die boud ordentlik vas is, sodat dit nie afval tydens die gaarmaak proses nie.
Sorg dat die spit se motor groot genoeg is om die boud te kan draai.
Sorg vir genoeg brikette, ek het 11 x 5 kg briket sakke gebruik.
Hierdie is ‘n groot werk, moenie probeer as jy nie ondervinding van spitbraai het nie.
Resep: Piet Pompies






