
VRUGTEVIERKANTE
FOOD LOVERS RECIPES
2 pakke (200 g elk) Tennisbeskuitjies
500 g droëvrugte-koekmengsel (3 koppies)
230 g botter of margarien (1 koppie)
100 g suiker (½ koppie)
100 g gesnyde glanskersies (½ koppie)
2 ekstra groot eiers
15 ml fyn gerasperde suurlemoenskil (1 eetlepel)
30 ml geroosterde klapper (2 eetlepels)
Bedek die boom van ‘n rolkoekpan van ± 22 x 23 cm met van die Tennisbeskuitjies.
Plaas die beskuitjies onderstebo in die rolkoekpan en sny dit kleiner met ‘n riffeltandmes, indien nodig.
Verkrummel die res van die beskuitjies grof en hou eenkant.
Verhit die droëvrugte-mengsel, botter/margarien, suiker en glanskersies oor matige hitte tot kookpunt en roer dit gereeld.
Klits die eiers en roer dit baie vinnig by die kokende vrugtemengsel. (as dit nie baie vinnig gemeng word nie, word die sous van die vrugtemengsel vol klontjies, omdat die eiers gaar word voordat dit ingeroer is)
Roer die mengsel oor lae hitte totdat dit verdik.
Voeg die suurlemoenskil en beskuitjie krummels by en meng goed.
Versprei die vrugtemengsel oor die laag beskuitjies in die pan en druk dit daarop vas.
Strooi die klapper bo-oor.
Verkil die koek tot styf.
Sny dit in vierkante van 4 x 4 cm.
(4 dosyn koekies)






