MELKTERT SONDER EIERS
Dit is regtig baie lekker, ek kan die reuk van eier nie verdra nie, so die resep is perfek vir my. Geniet.
Kors:
gekrummelde koekies gemeng met gesmelte botter.
Vulsel:
2 ½ koppies melk
3 teelepels botter
80 ml maizena
40 ml koekmeel
140 g strooisuiker
2 ml vanilla geursel
kaneel
Druk die koekiemengsel in die bodem van ‘n tertbak vas en plaas in die yskas terwyl jy die vulsel maak.
Plaas die melk en botter in ‘n kastrol.
In ‘n groterige maatbeker meng maizena en meel met bietjie melk tot geen klonte en lekker romerig. Voeg strooisuiker by en meng goed. Sodra botter gesmelt het en melk amper kookpunt bereik, voeg bietjie van die warm melk by die pastamengsel in maatbeker, roer vinnig dat daar geen klonte vorm nie en skep terug in kastrol by die res van die melk. Meng vinnig en aanhoudend tot die mengsel goed dik word.
Indien nodig meng nog bietjie maizena en meel en voeg by warm melkmengsel terwyl jy vinnig klits om klonte te voorkom. Wanneer die mengsel lekker dik is, verwyder die kastrol van die stoof, voeg vanilla by en klits of roer goed.
Skep die vulsels in die kors, maak gelyk en strooi met kaneel. Laat staan die tert tot afgekoel, voor bedien word.
Nota:
Moira Botha Dyer – Ek sit myne NIE in yskas nie, dis asof dit vog opbou.
Gillian Vermeulen – Ek het 80 ml bruinsuiker en 5 ml vanilla geursel gebruik.
Resep: Moira Botha Dyer
Foto: Gillian Vermeulen