


GROOTMAAT MAALVLEIS EN GROENTE GEBAK
Hier is iets vir die wat baie kos op ‘n slag wil maak, met min moeite. (Ek is alleen en berei baie op ‘n slag voor vir twee weke of meer.) Natuurlik kan dit in kleiner maat ook gedoen word!
12 kg maalvleis
3 kg Meksikaanse roerbraai
3 kg Franse roerbraai
2 kg ratatoulie mengsel
500 gram broodkrummels
12 groot uie, gesny
5 pakkies sampioene, gesny
2 pakkies Beef Hot Pot ‘cook in sauce’
2pakkes Durban Curry ‘cook in sauce’
2 pakkies Savoury Mince sous
sout en peper na smaak
Italiaanse kruie
olyf olie
borrie
Gebruik ‘n groot skottel as jy een het, die normale potte is maar klein om alles te meng.
Braai eers al die uie en die sampioene.
Meng die broodkrummels, maalvleis, sampioene, uie, Italiaanse kruie, borrie en ander speserye wat jy dalk wil in hê.
Let wel, die mengsel is net die normale goed, jy kan later die groot mengsel kleiner deel met verskillende geure (dis darem nie lekker om elke dag dieselfde te eet nie).
Deel die mengsel in twee, drie of soveel verskillende geure soos jy dit wil hê.
Jy kan nou die verskillende groente, pakkies sous en ander speserye na willekeur gebruik vir verskillende kombinasies.
Meng nou ‘n deel van die basiese mengsel met jou eie kombinasie in n ander bak.
Pak die nuwe mengsel tot bo teen die rand in n oondpan. Ek het twee oondpanne op ‘n slag ingesit. Tik dit liggies bo-op dat dit mooi teen mekaar is, dan word dit later maklik gesny en in blokke uitgehaal.
Ek het dit vir sowat 60 min gebak teen 150°C en vir die laaste 10 min die twee bakke omgeruil dat die ander een bo is, en ook bietjie meer bruin word.
Sodra dit mooi bruin bo-op is, haal uit en laat eers bietjie afkoel.
Sny dit versigtig met ‘n skerp mes in blokke soos op foto getoon word. Die broodkrummels hou dit darem so bietjie bymekaar. Skep dit maar op ‘n bed rys of jou keuse van bykosse.
Ek eet geen stysel op oomblik nie, en my porsies is sowat 600+ gram net soos dit uit die pan kom.
Die mengsel lewer sowat 30 porsies van 600+ gram op.
Die verhouding is op die oomblik baie vleis teenoor groente, maar jy kan dit gerus aanpas.
Daar is so baie opsies en verskillende geure dat mens nooit dieselfde hoef te maak nie. Jy kan amper ‘n gewone vleis balletjie resep gebruik, met die nodige om dit mince lekker te laat bind. Alhoewel die blokke wat ek gesny het, mooi in vorm gebly het. Passop vir groot stukke groente, dit val uitmekaar en bind nie lekker saam met die maalvleis nie – die wat ek kleiner roerbraai groente gebruik het. As jy nie op ‘n dieet of oefen program is nie, dink ek dit sal heerlik wees om kaas bo-oor te strooi vir die laaste paar minute!
Foto en resep: Francois Jordaan






