

GESONDE SADE BESKUIT
Resep geplaas deur Zonia Visser
Foto: Zonia Visser
FOOD LOVERS RECPES
500 g (500 ml) botter
500 ml olie
100 g (500 ml) semels
360 g (4 x 250 ml) hawermout
300 g (375 ml) suiker
10 ml sout
250 ml sonneblomsade
125 ml papawersaad
150 ml sesamsaad
150 ml lynsaad
250 ml pampoensaad, gekap
1,7 kg (10 x 250 ml) koekmeel
2 kop nutty wheat
80 ml bakpoeier
45 ml vanilla geursel
1 liter karringmelk of suurmelk met nog
Voorverhit oond tot 180°C. Smeer en voer bodem van twee groot broodpanne of 1 x 24 cm en 2 x 20 cm koekpanne, of beskuitpan van 45 x 50 cm, met die botterblok se papier of ander botter- of bakpapier.
Plaas botter en olie in ’n groot emalje-mengskottel oor lae hitte op ’n stoofplaat tot net gesmelt of plaas dit in die oond wat warm word, tot gesmelt. Die mengsel moenie kook nie. (Wees versigtig – die skottel word vinnig warm.) Of smelt botter en olie oor lae hitte in ’n kastrol of in mikrogolfoond en skink in ’n groot mengbak.
Strooi droë bestanddele in die volgorde wat dit gelys word, een vir een in ’n eweredige laag oor die warm bottermengsel. Vryf warm mengsel met jou vingerpunte by droë bestanddele in tot dit redelik krummelrig lyk. Daar moet geen droë meel of groot klonte sigbaar wees nie.
Meng vanilla en karringmelk of suur melk saam. Maak ’n holte in die meelmengsel en skink vloeistof by. Meng weer met jou hande tot ’n deeg vorm. Voeg ’n bietjie ekstra melk by indien dit te droog voel of nog hawermout as dit te slap is. Die deeg moet styf genoeg wees dat jy groot handevol maklik in die panne kan ‘skep’.
Verdeel deeg tussen panne en maak liggies bo-op gelyk. (Beskuitpan- sny jou beskuit nou met jou lem rak) Bak 50-60 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer beskuit uit en laat op afkoelrakkies tot heeltemal afgekoel.
Sny met ’n broodmes in vingertjies of breek met ’n vurk in stukkies. Plaas in ’n enkellaag op die oond se bakplate of ander vlak bakplaat en droog teen 70-100°C ongeveer 6 ure of oornag uit. Hou die oonddeur vir die uitdroogproses oop. Laat beskuit afkoel en verpak lugdig.






