BROODDEEG VIR ALLES EN NOG WAT (KONVEKSIE-OONDJIE)
Met hierdie deeg bak ek brood, die kinders maak stokbrood as ons braai, ek bak vetkoeke en ons maak roosterkoeke daarmee. Ek maak sommer die deeg in my broodmasjien. Plaas die bestanddele in dieselfde volgorde soos hieronder:
460 ml louwarm water
2 teelepels sout
4 eetlepels botter/bak-margarien
5 ½ koppies koekmeel
3 eetlepels suiker
4 eetlepels poeiermelk/koffie-verromer
7.5 ml kitsgis (ek verkies die pers pakkie, dan is daar nog 7.5 ml oor vir nog ‘n deegmengsel.
As jy nie ‘n broodmasjien het, plaas alles in dieselfde volgorde soos hierbo in ‘n groot mengbak en meng goed deur. As die deeg nog te taai is en aan hande vasklou, voeg nog meel by. Ek sit omtrent nog ‘n halwe koppie by. Laat deeg rys tot dubbel die grootte. Knie af en verdeel in koppies, broodpanne, skoon blikkies en maak ongeveer halfvol. Laat rys tot dubbel die grootte en bak in ‘n voorverhitte oond vir 30 minute teen 180°C of 20 minute as dit in blikkies/bekers gebak word. Ek het hierdie broodjies in die konveksie-oondjie gebak, voorverhit vir 5 minute en teen 180°C gebak vir 20 minute.
NOTA: Jy kan jou silikoon pannetjies in jou oondjie gebruik.
Resep en foto’s: Gillian Vermeulen