

PEPERSOUS FRIKKEDELLE
800 g maer maalvleis
250 ml Lancewood klaar aangemaakte pepersous met room
200 ml ongegeurde jogurt
150 ml droë hawer (Jungle Oats vlokkies)
Pluis die maalvleis los met twee vurke. Strooi die hawervlokkies oor die vleis. Meng die jogurt met die pepersous en roer by die maalvleis in.
Meng goed sodat die bestanddele ordentlik versprei is deur die maalvleis. Ek het so 3/4 koppie gekarameliseerde uie van die vorige aand oorgehad en dit bygevoeg vir geur.
Gebruik ‘n roomys lepel en skep ‘n balletjie vleis mengsel in jou hand wat met olie natgemaak is (dit verhoed dat die vleis vassit aan jou vel).
Vorm ‘n ronde frikkie en plaas in oondbak wat gesmeer is met olie. Vorm al die frikkies en pak in die oondbak. Bak oop in voorverhitte oond by 180°C vir 40 min.
Die hawervlokkies suig enige vloeistof op wat die jogurt kan afskei sodat daar nie waterigheid onder in die oondbak agterbly. Kyk op my fotos.
Nota: Die frikkies is los en geurig en hoef glad nie omgedraai te word nie.
Ek is nie seker of dit sal werk om in pan te braai op die stoof want ek is seker dit sal uitmekaar val agv die los tekstuur as dit omgedraai word.
Ek glo dit sal werk as dit stadig op die stoof geprut word met deksel op sonder omdraai maar dan gaan dit vaal vertoon maar nog steeds lekker geurig smaak.
Ek het net met gestoofde perskes en geroomde spinasie bedien.
Resep en foto: Elsabie Templeton






