

POTJIE KUIER IDEE
Gister het ek toe besluit dit is weer tyd om Saterdag potjiekos te maak. Bushbaby – die ¼ nr. (ons het 6 potjies) Dit is bykans by al wat ‘n winkel is. Kyk maar eers rond vir die beste handelsprys. Let op die dekseltjie het ‘n potyster knoppie. My man het hout knoppies gedraai – ek is seker mens kan houtknoppe koop en vassit.
Vuurhoutjies
Groen jel wat mens by kettingwinkels kry
Jou houtbord – 450 x 300 x 50
Leë tamatiepuree blikkie, 115 g
Natuurlik is die gat in die houtbord nie dwarsdeur gemaak nie. Die vloer gedeelte waar die blikkie inpas is ongeveer 5 mm.
Vul die blikkie met die jel tot so 10 mm van bo af.
Natuurlik moet al jou bestanddele vir die potjie vooraf voorberei wees.
Sny die groente lekker kleinerig. Te groot stukke vleis en groente gaan die potjie oorvol maak.
Ek het gevind dat hoe groter die stukke vleis en groente – brand die jel uit voordat alles gaar is. Dan moet jy die potjie baie versigtig afhaal en weer die blikkie effens opvul.
Al jou kruie, speserye, kerrie, souse, groente, olie, bacon, vleise van jou keuse, en moenie die room vergeet nie!! En wat ookal wat jy normaalweg vir ‘n groot potjie sou gebruik het.
Goeie vriende, ‘n wyntjie. GROOT tafel, baie spasie. Baie stoele.
Jou pot rys kan solank gaar kook daar in die kombuis.
Met al die gekuier en skerts maak elkeen sy eie potjie na sy keuse. Voordat jy jou oë uitvee is elkeen se potjie gaar.
Julle sal vind dat so ‘n potjie kos bykans genoeg is vir twee mense.
Skep jou rys op en keer daai lekker kos oor die rys. Siedaar.
As almal weg is kan die gasvrou net die gebrande jel uitkrap.
Behandel jou driepootjie soos jy die groot pot sou skoonmaak.
Ek hoop almal gaan nou ¼ potjies aanskaf.
Resep idee en foto: Hannie Steyn






