“AIR FRYER” KARAMEL KAASKOEK
Ek het ‘n kaaskoek in die “air fryer” gebak. Ons tweetjies is nog besig om mekaar te vind, maar ek was heel beindruk. Hierdie is nie ‘n bestaande resep nie, ek het gebruik wat ek beskikbaar gehad het.
Spuit ‘n 20 cm losboom pan goed met spray ‘n cook.
KORS:
‘n Halwe pakkie tennisbeskuitjies fyngemaak, gemeng met 50 ml gesmelte botter.
Druk mengsel op bodem en teen kante van die pannetjie vas. (Ek het die sjokolade/ment tennisbeskuitjies gebruik)
Plaas in yskas vir ongeveer ‘n uur.
BESLAG:
250 gr maaskaas
250 gr creme fraiche
250 ml strooisuiker
250 ml room (ek het Walmart se eweknie se langraklewe room gebruik, die 500 ml houertjie, dit is lekker dik)
3 eiers (jumbo) geklits
Meng alles saam met ‘n draadklitser en skep in voorbereide kors.
Verhit air fryer tot 160ºC.
Bak vir 30 min teen 160 ºC en ‘n verdere 10 min teen 150 ºC.
(Hier het ek maar geskat, want ek het geen idee hoe lank die koek moet bak nie)
Laat afkoel en laat rus vir ‘n paar uur in yskas.
Ek het karamel oorgesmeer en gekrummelde peppermint crisp oorgestrooi.
Die koek het glad nie krakies gemaak nie, en het ‘n heerlike fluweel tekstuur.
Resep en foto: Irma Erasmus