

KLAPPER EN SJOKOLADE LAAG KOEK
2 x 20 cm deursnee koekpanne
Oond temperatuur: 180 °C/350 °F/Gas 4
Klapper Sponskoek lae:
175 g ongesoute botter teen kamertemperatuur
175 g strooisuiker
3 groot eiers – geklits
175 g bruismeel
1 knippie sout
2 eetlepels melk
1 teelelep vanielje ekstrak
125 ml klapper
Rooster die klapper in die oond of in ‘n pan tot goudbruin – dit verkleur redelik vinnig so hou dop dat dit nie brand nie. Laat afkoel
Klits botter tot lig. (Hoe langer jy klits hoe beter – dit botter sal ligter van kleur word en ook sponserig word soos geklopte room)
Klits suiker by.
Hou aan klits en voeg geklitste eiers bietjie vir bietjie by om te verhoed dat die mengsel skei of skif.
Sif meel en sout 3 maal. Vou in by botter mengsel met ‘n metaal lepel.
Vou nou klapper, melk en vanielje by mengsel in
Gooi in gesmeerde panne wat se bodem met bakpapier uitgevoer is.
Bak vir 20 – 25 min in ‘n voorafverhitte oond.
(Moet nie die koeke te lank in die oond los nie anders droog dit uit.)
Sjokolade Sponskoek lae:
175 g ongesoute botter teen kamertemperatuur
175 g strooisuiker
3 groot eiers – geklits
175 g bruismeel
1 knippie sout
2 eetlepels sterk swart koffie
1 teelepels vanielje ekstrak
200 g goeie kwaliteit donker sjokolade (of 90 ml kakaopoeier)
As jy sjokolade gebruik, gooi die koffie oor die sjokolade en smelt in ‘n dubbelkoker/mikrogolf – wees net versigtig dat die sjokolade nie brand nie.
Klits botter tot lig. (Hoe langer jy klits hoe beter – dit botter sal ligter van kleur word en ook sponserig word soos geklopte room)
Klits suiker by.
Hou aan klits en voeg geklitste eiers bietjie vir bietjie by om te verhoed dat die mengsel skei of skif.
Sif meel en sout 3 maal. (As jy kakaopoeier gebruik sif dit saam met die meel)
Vou meel in by botter mengsel met ‘n metaal lepel.
As jy die sjokolade gebruik, vou dit nou in saam met die vanielje
Gooi in gesmeerde panne wat se bodem met bakpapier uitgevoer is.
Bak vir 20 – 25 min in ‘n voorafverhitte oond.
(Moet nie die koeke te lank in die oond los nie anders droog dit uit.)
Suikerstroop:
Hierdie is die geheim van ‘n lekker klam sponskoek.
Smelt 50 ml wit suiker in 50 ml kookwater. Voeg een teelepel vanielje daarby. Gooi die mengsel in ‘n leë waterbotteltjie waarvan jy die doppie met ‘n kopspeld vol gaatjies gesteek het. Dit moet soos ‘n gietertjie uitkom as jy dit omkeer.
As jou koek lae mooi afgekoel het – stort hulle met hierdie skuikerstroop en gee dit kans om lekker in te trek in die koek voordat jy dit begin versier.
Jy kan ook ander geursel ingooi afhangende van watter koek jy bak. Ek maak sommer my botteltjie vol en hou dit in die vrieskas vir volgende keer se gebruik.
Italiaanse Meringue botter versiersel:
Dit klink baie werk – maar glo my jy sal nooit weer gewone versiersel wil gebruik nie!
Jy het ‘n suikertermometer en ‘n staanmenger met ‘n groot bak hiervoor nodig! Een gehoorbeskerming vir al die geklitsery volgens my man!
250 ml suiker
60 ml water
5 eierwitte
60 ml strooisuiker
500 g ongesoute botter teen kamertemperatuur
Kook die suiker en water oor medium hitte tot dit 116 °C/245 °F (sagte bal stadium) bereik.
Wanneer die suikerstroop ~100 °C bereik begin jou eierwitte styf klits.
Klits eierwitte tot sagte punte vorm, sprinkel strooisuiker oor, ek klits tot styf.
Gooi warm stroop stadig in ‘n straaltjie by eierwitte terwyl klitser op sy hoogste spoed, klits tot al die stroop bygegooi is. Die warm stroop kook die eierwitte.
Moet nie die klitser stop nie. Hou aan klits tot die buitekant van die bak afgekoel het tot kamertemperatuur. Dit moet nie warm wees nie want dan gaan jou botter smelt en die versiersel split.
Klits die botter klein bietjie op ‘n slag by die koue meringue. Tot al die botter bygevoeg is.
Moet nie skrik as die meringue lyk of hy plat val nie – hou net aan klits. Dit word basies geklits tot dit soos geklitste room lyk.
Nou kan jy jou geursels byvoeg – vanielje of gesmelte sjokolade vir sjokolade versiersel.
Vir Sjokolade versiersel – ½ koppie gesmelte en afgekoelde sjokolade en 1 teelepel vanielje
Koffie versiersel – 3-5 teelepels koffie poeier in min melk opgelos.
Foto: Annelize van Rooyen
Resep: Annelize van Rooyen







geskuif