
HEERLIKE VRUGTEKERRIE SONDER VLEIS
Lewer 4 porsies
100 ml margarine
2 uie gekap
1 knoffelhuisie gekneus
1 soetrissie ontpit en gekap
12,5 ml kerriepoeier
25 ml koekmeel
500 ml vleisekstrak
85 g gedroogte appelringe, oornag in bietjie water geweek
60 ml sultanas, oornag geweek
5 ml suurlemoensap
10 ml fyn appelkooskonfyt
5 ml suiker
sout en peper na smaak
8 hardgekookte eiers in die lengte halveer
2 piesangs geskil en in skyfies gesny
Smelt die maragrien in ‘n pan en braai die uie en knoffel tot deurskynend, maar nie bruin. Voeg die soetrissie en kerripoeier by en braai vir ‘n paar minute. Wees versigtig dat dit nie brand nie. Roer die koekmeel by en gooi die vleisekstrak stadig by terwyl jy die hele tyd roer. Roer tot die mengsel kook.
Dreineer die appelringe en sny in kleiner stukke.
Dreineer die saltanas en voeg saam met die appels, suurlemoensap, appelkooskonfyt, suiker, sout en peper by die kerriemengsel. Kook vir 5 min stadig tot die appelstukke sag is. Roer af en toe.
Skep bietjie van die sous onder in die opskepskottel en rangskik die halwe eiers met die gesnyde kante na onder bo-op die sous. Strooi die piesangskyfies bo-oor die eiers en dan gooi jy die res van die sous oor. Bedien saam met rys en slaai van jou keuse.|
Resep geplaas deur Rina Kleinhans






