

GEVLEGDE GEVULDE BROOD
1 pak gekoopte deeg
laat die deeg ±1 uur rys, deel die deeg in 4 dele.
Rol elke deel dun uit in ‘n reghoekige vorm.
Smeer / vul elke deel met ‘n smeersel / vulsel van jou keuse.
Rol elke deel op dat dit lyk soos ‘n rolkoek en knyp die oop kante liggies toe.
Vleg die 4 dele soos jy gelei voel die dag, plaas dit op ‘n bakplaat en laat weer rys vir ± 30 min.
Bak die vlegsel in ‘n voorverhitte oond vir 10 min teen ± 190°C en daarna vir ± 20 min teen ± 130°C. Haal die vlegsel versigtig van die oondpan af met ‘n spaan en plaas dit direk op die oondrak en bak dit verder vir nog ± 20 min. Toets die vlegsel en maak seker die toetspen kom skoon uit.
Vulsels wat in hierdie foto gebruik is:
1 deel is gevul met ‘n bossie vars pietersielie en ‘n handvol basielblare, fyn gekerf en gemeng met olyfolie en vars knoffel na smaak.
1 deel is gevul met ‘n klein botteltjie tamatie pesto, gemeng met 2 eetlepels soetrissiesous en 2 eetlepels blatjang.
2 dele is gevul met gerasperde Cheddar en gekrummelde swartpeper feta kaas.
Wenke:
Kry al jou vulsels vooraf gereed VOOR jy begin met die proses.
Ek het eers die rolle effens oopgesny in die lengte voor ek dit gevleg het.
Bedek die vlegsel liggies met foelie indien dit te donker begin bak.
Een pak deeg behoort genoeg te wees vir ‘n gesin.
Foto en resep: Meyer Combrinck







Done