


KLAM SJOKOLADE KOEK MET MAYONNAISE
BAIE spesiale verjaarsdag koek aan ‘n baie spesiale vriendin vandag.
250 g (500 ml) koekmeel
60 g (150 ml) kakao
15 ml bakpoeier
5 ml koeksoda
3 ekstra groot eiers
300 g (375 ml) suiker (ek verkies altyd strooisuiker in gebak)
5 ml vanielje geursel
250 ml mayonnaise
250 ml sterk aangemaakte koffie
Ganache:
2 x 150 g donker sjokolade blokke in blokkies gebreek
250 ml vars room
Berei 2 x 20 cm panne voor (ek het my 23 cm los boom panne gebruik) deur met bakpapier uit te voer en met kleefvrye sproei te sproei.
Voorverhit oond tot 180°C.
Sif droë bestanddele saam en hou eenkant.
Klits eiers, suiker en vanielje geursel saam tot lig en romerig.
Meng die mayonnaise en koffie tot glad (ek wag nie eers vir die koffie om af te koel nie, meng makliker as dit nog warm is).
Meng nou die koffie, mayonnaise mengsel en die droë bestandele om die beurt by die eier mengsel in om ‘n gladde beslag te vorm (moenie te veel meng nie).
Skep die beslag in die panne, maak die bokante glad en bak vir ongeveer 35 min of tot toetspen skoon uitkom.
Laat die koeke in die panne afkoel voordat jy dit versier.
Ganache:
Smelt die sjokolade blokkies in glasbak oor kastrol met kokende water (water moet nie aan die onderkant van glasbak raak nie) terwyl die sjokolade met houtlepel geroer word.
Maak intussen so 100 ml van die room warm tot by kookpunt in mikrogolf.
Sodra al die sjokolade gesmelt het gooi die room by en roer om te meng.
Hier begin ek my balon whisk gebruik.
Roer tot die mengsel glad soos satyn en sonder enige klontjies is.
Sit die eerste laag koek op opdienbord en gooi die effens afgekoelde ganache stadig vanaf die middel in sirkel beweging al wyer na die buitenste kant van die koek sodat dit effens afdrup op die kante.
Sit die ander laag koek bo-op en doen presies dieselfde.
Jy kan ook met ‘n plat lem mes die ganache smeer maar ek vind as dit dun genoeg is versprei en drup dit maklik.
Hoe dunner jy die ganache wil hê hoe meer room sit jy by maar ek sal nooit meer room as sjokolade gebruik.
Jy kan die ganache weer effens warm maak as dit te veel afgekoel het en moeilik werk.
Hierdie versiersel stol maar word nie kliphard nie.
Garneer die koek soos verkies.
Ek het vars frambose, swart pitlose druiwekorrels, pers vye, en ‘n rol gedroogde bessiepulp wat baie dun gesny is met baie skerp gladde lem mes en in eetbare goue poeier gedruk is gebruik. Jy kan ook net sjokolade krulle met wit en donker sjokolade maak indien verkies.
Foto van Resep: Elsabie Templeton

Foto en aanpassing deur Roelien Botha:
Ek het in die laaste tyd 3 x Elsabie Templeton se resep gebruik. Ek het een van die 2 koppies meel met bruismeel vervang, 15 ml bakpoeier en 5 ml koeksoda. Die meel 2x gesif. Ek het net 1 x 23 cm pan gebruik, so dit is nogal ‘n hoë koek, en hy het glad nie ingesak in die middel nie.






