


GRANADILLAKAASKOEK
Lewer 1 groot kaaskoek of 12-15 minikaaskoeke
Bereiding: 20 min
Verkoel: 3-4 uur of oornag
200 g gewone volgraankoekies
100 g botter, gesmelt
2 blikke (385 g) kondensmelk
250 ml (1 koppie) suurlemoensap
2 houers (250 g) roomkaas
60 ml (¼ koppie) water
30 ml (2 eetlepels) gelatien
3 blikkies (115 g) granadillamoes
1 pakkie (80 g) suurlemoenjellie
250 ml (1 koppie) kookwater
Smeer ’n losboomkoekpan van 25 cm of 12 klein losboomtertpannetjies.
Meng die koekies en botter en druk dit in die bereide panne. Plaas dit in die koelkas terwyl jy die vulsel maak.
Klits die kondensmelk, suurlemoensap en roomkaas saam in ’n groot bak tot glad.
Gooi die water oor die gelatien en laat staan om te spons. Verhit die gelatien ’n paar sekondes tot dit smelt en klits by die roomkaasmengsel.
Voeg twee blikkies granadillamoes by die mengsel en gooi oor die koekiebasis.
Plaas vir sowat twee uur in die koelkas.
Roer die suurlemoenjellie en kookwater saam tot die jellie opgelos is en laat ’n paar minute eenkant afkoel.
Gooi die oorblywende blikkie granadillamoes by, gooi oor die gestolde kaaskoek en verkoel nog ’n uur in die koelkas.
Sit voor saam met granadillasous of room.
Resep getoets en foto: Frieda Greyling






