

ELMIEN SE AARTAPPELSUURDEEG
So ‘n klompie jare gelede was ek behep met ou suurdeeg of wildegis brood. Het selfs boeke uit Amerika bestel. Dis ‘n langdraderige proses, selfs so lank as 14 dae se voorbereiding, maar geleidelik het veral my vrou moeg geraak vir die suurderige smaak. Ek het met tyd ander resepte gemaak, ook in ons broodmasjien wat altyd suksesvol is.
Hier is die Muisbosskerm naby Lambertsbaai se gewilde aartappelsuurdeeg broodresep, soos ek dit neergeskryf het so 30 jare gelede op ‘n stukkie meelpapier, terwyl die brode gerys het langs die kreefpot vure.
2 aartappels, afgewas en met skil gerasper
2 koppie kookwater
4 ml aktiewe droë gis
½ koppie louwarm water
2 eetlepel suiker
2 teelepel sout
Giet die kookwater oor die gerasperde aartappels in ‘n glashouer met ‘n skroefdeksel (Consol). Draai die deksel vas en laat staan die mengsel tot afgekoel. In ‘n ander houer, meng die gis met die louwarm water en suiker en laat staan totdat die gis begin skuim. Voeg die gismengsel by die aartappelmengsel saam met die sout en draai die deksel net effens vas, sodat die lug kan ontsnap. Laat staan op ‘n warm plek vir 8 ure voor gebruik.
Nota:
Elmien het elke oggend vroeg, vars suurdeeg gemaak vir die aand se broodbak. Dis dieselfde aartappelsuurdeeg resep wat my oorlede moeder gemaak het en ons mee grootgeword het.
Resep geplaas: Hannes Smith






