

SOJA EN HEUNING HOENDER
Soja en heuning hoender roerbraai met groente in ‘n tjalie. Heerlike geur kombinasie!
4 hoender borsies, ontbeen en in repies gesny
2-3 eetlepels heuning
sojasous
groente van keuse ongeveer 3-4 koppies (ek gebruik net vars groente veral vir roerbraai, anders spat dit in die olie as dit gevries is)
Vanaand het ek wortels met my spiraal snyer bygekom.
Langsteel brokkoli in kleiner stukkies gesny en ‘n soet rooipeper in repies gesny.
Roomkaas
Soet rissie sous
Braai eerste die hoender repies gemeng met die heuning in warm wok of pan met bietjie olie. Die heuning help dat die hoender vinniger bruin word omdat die suiker karameliseer op die buitekant. Sodra die hoender begin bruin word sprinkel sojasous oor en roerbraai tot gaar maar moenie oorgaar maak. Gooi die hoender en sous uit in ‘n bak en was die wok/pan. As jy dit nie was nie gaan jy met tameletjie sit op jou groente.
Maak weer die pan warm (of gebruik ‘n ander pan soos ek 😀) en gooi bietjie olie in. Sodra warm gooi jou groentes in en roerbraai vinnig tot mooi helder van kleur en nog steeds krakerig.
Maak die tjalie (wrap) warm soos aangedui op verpakking en sit een tjalie per bord. Smeer met roomkaas, soet rissie sous en sit hoender en groente op en vou toe. Jy kan van die soja & heuning sous bo-oor drup. Steek vas met kort sosatie stokkie as dit bly oopgaan. Bedien.
Resep en foto Elsabe Templeton






