

R SE HOENDERLEWERTJIES
Ek het ‘n vriendin wat die lekkerste hoenderlewertjies maak. Sy het al soveel keer vir my probeer verduidelik hoe om dit te maak, maar ek kry dit maar net nie reg soos sy dit maak nie.
Hier is my 5-bestanddele weergawe van haar hoenderlewertjies.
Daar is nie regtig waar hoeveelhede vir hierdie resep nie want alles is maar soos jy daarvan hou, maar ek gaan probeer.
250 g hoenderlewertjies, gewas; galblase verwyder; in stukkies gesny so groot soos wat jy wil
‘n Gegeurde meeltjie van jou keuse om lewer te bedek (ek het sommer ‘n houer coating van die winkel rak af gevat)
1 medium ui, in stukkies gesny
± 1 koppie old brown sherrie
± 1 koppie room
knoffel na smaak
swart peper na smaak
rissie na smaak
gerookte paprika (optioneel)
gemengde kruie (optioneel)
Braai die uie tot dit begin verkleur. Sit die knoffel by en laat dit nog ‘n minuut braai. Skep die uie en knoffel uit in ‘n bakkie en hou vir later.
Plaas nog ‘n bietjie olie in die pan en laat dit warm word.
Bedek die lewer stukkies met die coating en braai dit in die warm olie tot mooi bruin en dit begin bros word. Voeg die reeds gebraaide uie en knoffel by. Voeg die sjerrie by en roer al die vasgebraaide lekkerte van die bodem af los. Sit die room, swart peper, rissie vlokkies, paprika en kruie by. Roer deur.
Proe maar of nog sout nodig is – moet nie die coating wat jy gebruik onderskat nie.
Sodra die sous begin verdik is jou hoenderlewerties reg.
Bedien saam met ‘n stysel van jou keuse.
Foto: Wayne Dugmore






