

KOOK DIE PERFEKTE RYS
Ek vind die beste manier om rys te kook is….neem ‘n kastrol waarin die rys gekook word en plaas op die stoofplaat. Sit ook terselfde tyd jou ketel aan.
As jy uie in jou rys wil voeg vir geur, sny een ui op in klein blokkies. Gooi bietjie olie in die pan en braai die uie eers. Hierdie stap kan uitgelaat word.
1 koppie / 250 ml rys, benodig 2 keer die hoeveelheid water, maw 2 koppies / 500 ml water.
Verhit 1 – 2 eetlepels olie in die pot en voeg die rys in die pot by die olie, maak seker die rys is met die olie gemeng. Giet die kokende water by die rys (dit sal spat, wees versigtig).
Roer tot net gemeng en plaas die deksel op.
Verlaag onmiddelik die hitte tot laag. Moenie die deksel oplig nie en kook vir 20 min. Lig die deksel op na 20 min. Die water behoort nou al te verdwyn het. Flok die rys met ‘n vurk en voeg sout of geursel by na eie keuse. As die rys nog klam is, plaas die deksel terug en los op ‘n baie lae hitte. Gebruik soos verkies.
Dit stoor baie goed in die yskas en die rys is nie klewerig nie.
Voorspoed, ek hoop hierdie help. Dis ‘n tegniek wat ek van Delia Smith geleer het en dit was nog altyd net ‘n sukses vir my.
Resep geplaas deur Wilanda Räsänen
Corrie Hildebrandt
Ek werk bietjie meer hardhandig met rys. Ek gebruik dieselfde hoeveelhede soos in die resep hier bo, plaas al die bestanddele in ‘n glasbak met eers kombuispapier oor en dan ‘n deksel bo op. Kook vir 20 of 25 minute op hoog in mikrogolf. Laat staan so 20 tot 30 minute. Heerlik los en sag.
Elsabie Templeton
Ek doen nog die ou manier van was stysel goed af, week 15 min, spoel af, kook in kookwater vir 15 min, gooi uit en stoom in die bietjie water wat oorbly tot sag. Vlok die rys met ‘n vurk.
Evelyn Donough
Ek week rys vir 20 minute in koue water terwyl ek ‘n pot water op die stoof laat kook (so 10 minute na ek die rys in water week) voeg die rys in die kokende water en roer deur met ‘n vurk. Laat dit kook vir 10 of 15 minute terwyl ek ‘n ketel water aansit. Giet die rys in ‘n kolander en was die stysel goed af. Giet die ketel water oor die rys en laat staan.






