

CIABATTA – PANTOFFELBROOD
Resep en foto: Hannes Smith
FOOD LOVERS RECIPES
Maak eers ‘n pre-ferment;
200 g broodmeel
200 g water
¼ teelepel gis, bedek en laat oornag in die yskas.
Laat toe om tot kamertemperatuur te kom.
Meng daarby
240 g koue water
350 g broodmeel
1 eetlepel olie
1½ teelepel sout
Meng al die bestanddele in die bak van die staanmenger teen spoed 1 vir 1 minuut.
Meng teen spoed 2 vir 1 minuut, dan teen spoed 4 vir 4 minute.
Die slap deeg moet van die sye van die bak loskom maar nog onder vassit.
Olie ‘n mengbak en keer die sagte deeg daarin, bedek en laat rus vir 45 minute.
Maak hande nat en lig deeg uit en vou 4 keer oormekaar. Bedek en laat rus vir 45 minute. Herhaal proses nog ‘n keer. Bedek en laat rus weer vir 45 minute.
Maw daar is 3 rus periodes en 2 vou kere.
Strooi ‘n laag meel op tafel en keer deeg daarop uit.
Strooi ook ‘n lagie meel oor die sagte deeg, werk liggies en druk die deeg in ‘n vierkant en druk effe plat. Twee plastiek blaaie van so 150 mm vierkant werk lekker. Sny deeg in twee en vorm in pantoffel fatsoene.
Gebruik ‘n ou laken of iets soortgelyk as ‘n couche, strooi met meel en vryf in.
Lig die pantoffels met die plastiek blaaie op en sit liggies neer op die laken, maak walletjies om die deeg se vorm te behou en uitmekaar te bly, bedek en rus vir 20 minute. Sit ‘n omgekeerde oondpan in die oond en verhit tot 230º C.
Gebruik ‘n snyplank en sit ‘n stuk bakpapier daarop om die brode na die oond te neem. Lig die punt van die laken stadig op sodat die sagte deeg kan omval op die laken.
Druk hande aan weerskante van brood aan die lang kante in, lig vinnig op en plaas op die snyplank, doen dieselfde met die ander brood. Skuif die snyplank met die twee brode op die bakpapier versigtig op die omgekeerde pan
Sit ‘n pan heel onder in die oond en gooi kookwater daarin, sproei ook binne die oond met ‘n blom spuitjie, doen dit 3 keer met 30 sekonde tussenposes.
Bak vir 10 minute, draai die oondpan 180º om en bak nog 10 minute of tot mooi bruin.






