

ADELE SE KARP KERRIE VIS
Vanaand is ek lekker moeg na 15 kg karp verwerk het… Kerrie vis gemaak en sal môre die viskoekies maak….
Sny vis van die visgrate af en sny in blokkies van so ongeveer 5-6 cm stukke. Sprinkel met growwe sout en laat oornag in vergiettes om te droog…
Kook die visgrate in sout water met 1 eetlepel knoffel en 1 eetlepel Ina Paarman vis speserye vir so 40 minute en dreineer. Hou die vloeistof as vis stock ek vries myne in kleiner houertjies.. Verwyder die grate en bêre dié vis in die yskas vir die viskoekies.
Vir die kerrie vis maak beslag om te braai.
4 koppies meel,
8 teelepels bakpoeier,
1 teelepel sout,
2 eetlepels vis speserye,
4 eiers,
4 koppies water.
Meng goed tot glad… Doop die vis in die beslag en braai in olie tot goudbruin. Dreineer goed en laat dit afkoel..
KERRIESOUS
Skil en sny ongeveer 3 kg uie in ringe.
Braai in bietjie olie tot bruin en sag en deurskynend maar nie pap nie.
Meng 2 eetlepels medium kerrie,
1 eetlepel flavourful en medium kerrie,
1 teelepel fyn koljander,
1 eetlepel borrie,
1 teelepel sout,
4 eetlepels appelkooskonfyt,
2 lt asyn,
3 koppies suiker.
Kook vir ongeveer 15 minute oor lae hitte..
Verdik die sous met 3 eetlepels maizina. Laat sous afkoel vir so uur…
Skep paar lepels van die kerrie uie sous in bottels plaas visstukke in die bottel tot so 3/4 vol. Vul die bottel tot bo met die kerrie uie sous. Gebruik mes om enige lugborrels te verwyder. Maak vol tot heel bo en draai prop styf op… Bêre in koel area vir so 4-5 weke… Ek kan nie wag nie…. Yum yum
Foto en Resep: Adele Horn






