

ONTBEENDE GESTOPTE LAMSBLAD
1 ontbeende lamsblad
5 – 6 songedroogte tamatieskywe opgekap
30 ml songedroogte uie
vars roosmaryn na smaak
vars pietersielie na smaak
sout en peper na smaak
500 g bees maalvleis
60 ml room
Basil pesto
50 ml balsamiese asyn
50 ml suurlemoensap
olyfolie
Ek het ‘n lamsblad ontbeen, en gestop met gegeurde maalvleis.
Meng die maalvleis met die songedroogte tamatie, songedroogte uie, roosmaryn en vars pietersielie en sout en swartpeper na smaak. Meng die room lekker deur die hele mengsel, proe dat dit ‘n lekker gegeurde mengsel is.
Maak die ontbeende vleis mooi plat oop en kap met ‘n vleis hammer dat hy oral omtrent ewe dik is.
Smeer die hele stuk vleis met basil pesto en pak dan die maalvleismengsel bo-op.(sien foto) Rol op die vleis op soos ‘n rolkoek en maak vas met tou.
Smeer die hele rol met olyfolie en sit swartpeper, sout en roosmaryn speserye buite om. Braai die rol bietjie bruin in olyf olie op die stoof in ‘n ysterpot.
Meng die suurlemoensap met die balsamiese asyn en gooi in die pot, sit die deksel op en bak in die oond teen 160 ºC vir ongeveer 2 ure of tot gaar, hang af van die dikte van die rol.
Nota:
Ek het dit lou warm bedien saam met ‘n heerlike bruinsous wat ek gemaak het van die vloeistof wat oor was in die ysterpot.
Foto en resep: Rina Kleinhans







Geskuif