


ELSABIE SE HOENDER CORDON BLEU
Hierdie is iets wat julle moet probeer! Die smaak het weereens my verwagtinge oortref. Krakerig buite en sag en romerig binne met rokerige sout smaak van die ham.
4 ontbeende hoender borsies
4 snye kaas na smaak (skerp verouderde Cheddar, Roquefort, mozzarella, Switserse kaas soos Emmenthal en Gruyere of harde Franse kaas wat maklik smelt)
4 dun snytjies geurige ham (ek het Swartwoud ham gebruik wat in swart pepper gerol is voordat dit gesny is)
2 koppies droë krummels gemaak van fyngemaakte graanvlokkies
1 eier, gemeng met ½ koppie melk en 15 ml suurlemoensap
1 koppie koekmeel
Sit die hoender filet plat neer terwyl jy met een hand vasdruk en ‘n slootjie horisontaal in die middel van die vleis sny met skerp gladde lem mes sonder om regdeur te sny. Terwyl die filet nog so plat lê slaan dit dunner en meer egalig om die gaarmaak proses te vergemaklik.
Vou die filet oop en plaas die ham dubbel gevou en die sny kaas binne in. Vou toe en druk dit eers in die meel en dan in die geklitste eier/melk/suurlemoensap. Laat dit effens afdrup en druk dan in die krummels. Werk versigtig sodat die vulsel nie uitval. Sit die gekrummelde filette op ‘n bord en sit in yskas vir 30 min.
Intussen trek foelie oor plat oondpan en smeer goed met olyf of olie wat jy gebruik. Ek sit so baie olie dat dit so 2mm lê regoor die pan. Verhit oond tot 170°C. Sit die gekrummelde filette versigtig in olie op die foelie.
Bak vir 15 min en draai dan versigtig om en bak nog 15 min of tot gaar en goudbruin aan albei kante.
Bedien op warm bord met skyfie suurlemoen en/of kaas of Dijon mosterd sous.
Nota: baie mense steek die filet toe met tandestokkies sodat die vulsel nie uitkom maar dis só beslommernis dat ek dit nie doen nie. Ek het skerp wit Cheddar gebruik en dit het net effens uitgebak reg op die einde van baktyd. As jou kaas dungesny (2 mm) is sal dit nie uitbak nie.
Foto en resep deur Elsabie Templeton






