

GEEN-KNIE VERGEET-VAN-MY BROOD
Ek moet hierdie eienaardige, maar hemelse lekker brood met julle deel. Ek het dit ‘n paar maande terug op ‘n video gesien en het vir een of ander rede die bestandele en metode onthou…
3 koppies koekmeel
20 g kitsgis
1 teelepel sout
2 koppies water
Meng die meel en die gis saam in ‘n groterige en die bak. Maak ‘n holte in die middel. Los die sout in die water op. Giet die soutwater in die holte en meng alles saam tot net gemeng. Sit kleefplastiek oor die bak en vergeet van die deeg vir 12 – 18 ure.
Wanneer jy reg is om jou brood te bak voorverhit jy die oond tot 230°C. Sit ‘n oondvaste pot met deksel (ek het my swartboompot gebruik) in die oond vir 30 minute om warm te word.
Haal die kleefplastiek van die bak af en besprinkel die deeg met meel. Maak die deeg aan die kante los met ‘n skraper – MAAR MOET NIE MENG NIE. Keer die deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte. Sprinkel nog meel bo-oor. Vorm die deeg tot rond – MAAR MOENIE TE VEEL KARRING NIE. Tel die deeg op bakpapier. Maak toe met plastiek tot jou pot warm is.
Sodra jou pot warm is tel jy die bakpapier op en sit dit in die pot. Sit deksel terug en bak vir 30 minute met die deksel op. Haal die deksel af en bak vir nog 10 minute.
Voila!!!
As jy nie ‘n bros kors wil hê nie draai jy die brood toe in kleefpastiek sodra dit afgekoel het tot jy dit met gemak kan hanteer.
Uiters lekker saam met ‘n potjie of sop. Ook vreeslik lekker saam met olyfolie en balsamiese asyn.
Foto en resep: Wayne Dugmore







Wayne Dugmore
ek was baie skepties oor die brood. As jy dit op die bakpapier tel is dit ‘n blop deeg – maar dit het maklik 12-15cm uitgestyg in die pot… Dit proe soos regte egte suurdeeg brood…
Wayne Dugmore, ek is so bly en dankbaar vir die resp eers het ek die brood regtig vergeet en hy’t so 24uur gestaan, toe dog ek hy gaan ‘n flop wees maar nogsteeds hemels lekker verby baie dankie