

SUIKER KOEKIES WAT NIE SPREI NIE
227 g ongesoute botter, kamertemperatuur (baie belangrik) – sowat een koppie
250 ml suiker, in voedselverwerker fyngemaak, of strooisuiker
2.5 ml sout (los uit as jy gesoute botter gebruik)
1 groot eier
1 groot eiergeel
10 ml Vanilla
350 g (of 2.5 x 250 ml) koekmeel
Resep bevat GEEN rysmiddel nie, anders sprei die koekie en raak uit fatsoen.
Room botter en suiker tot lig, en voeg eiers, vanilla by tot baie goed gemeng. Voeg meel by en meng tot net goed gemeng, moenie oor-verwerk nie. Deel in halwes of derdes, druk elke deel plat en maak toe met kleefplastiek. Bere in yskas vir ten minste 1 uur, maximum 2 dae. Kan gevries word maar gebruik binne 2 maande
(WENK: As jy dit dadelik gaan gebruik, rol uit tot 0.75cm dik tussen twee lae bakpapier voor jy dit in die yskas sit. Dit koel vinniger af, en jy druk uit sonder om weer te sukkel om koue deeg uit te rol.)
Rol uit tussen 2 lae bak papier, lig die papier af en toe. Dit help dat jy nie ekstra flour inmeng en die koekies te krummelrig raak nie. Rol uit tot driekwart cm dik, druk fatsoentjies uit en lig versigtig met ‘n metaal spaan en plaas op bakpapier op ‘n bakplaat. Sit intussen die oond aan op 180 grade celcius. Moenie verskillende groottes op dieselfde bakplaat sit nie, anders sal sommige verbruin in die tyd wat die grotes gaar bak.
Plaas die koekies weer vir 30 minute in die yskas of 15 minute in die vrieskas. Dit help dat die fatsoen behoue bly en die koekie nie uitsprei nie. Bak tussen 10 en 13 minute tot goudkleurig (nie bruin) – tyd hang af van jou oond en ook hoe groot die koekies is. Sit op rakkies om heeltemal af te koel voordat jy versier.
Maak solank jou royal icing (koninklike versiersel klink net weird) sodat dit kan staan en die borrels uitgaan.
Royal Icing
3 eierwitte (of 45 ml eierwitpoeier gemeng met 90 ml water)
500 g suiwer versiersuiker (nie die mengsel met maizena in nie)
5 ml vanilla (gebruik deurskynende vanilla as jy spierwit versiersuiker wil he, of enige deurskynende geursel
Meng die eierwit, suiker en geursel op lae spoed tot alles goed gemeng is. Klits teen hoe spoed met K klopper of bree kloppers (nie draad wat jy eierwit en room mee styfklits nie) vir tot 2 minute. Die doel van dit is, jy wil dit tot stywe punt stadium en spierwit he, maar met so min moontlik lug ingeklits. Plaas in ‘n lugdigte bakkie, maar met ‘n velletjie bakpapier of kleefplastiek reg teen die versiersel. Laat staan vir ten minste 2 ure (so jy moet dit dalk eerste aanmaak). Dan roer jy dit na 2 ure versigtig sodat van die lug wat ingeklits is ontsnap. As jy die lepel omkeer, sal dit nie val nie, daai dikte.
Nou begin die pret. Jy gebruik hierdie mengsel (sommige sjefs noem dit “gom”) om die buitelyn en ook die flooding aan te maak, deur meer water by te voeg, half teelepel of soos ek maak, met ‘n sproeibottel. Die buitelyn moet dun genoeg om deur jou dunste versierpuntjie te kom. As jy nou die lepel uitlig uit die bak, sal dit in groot klompe van die lepel afval tot in die bak. Dan “outline” jy jou prentjie op die koekie, laat dit bietjie hard word (‘n baie lae oond, 70 grade max) of dehidreerder help dit vinniger aan. Na so 30 minute kan jy die koekie invul of flood, met ‘n nog dunner weergawe van die uitlyn. Dit moet nou in ‘n dun stroom van die lepel afdrup, dikte van heuning. Gebruik ‘n dun naald of tandestokkie om die flooding in al die hoekies te kry, en borrels te breek. Skud jou koekie om borrels uit te bring.
Plaas jou koekie onder ‘n waaier of in jou oond (ek sit hom af as ek hulle insit) of dehidreerder vir 12 ure. Dan kan jy begin versier.
Jy kan koekies soos myne maak (google Mezamanna om te sien waar kry ek inspirasie) deur jou outlining icing effe dunner te maak maar baie min. As jy vloeibare kleur gebruik kan jy dit sommer met dit dunner maak.
Foto: Kiti De Jager






