

GEVULDE HOENDERBORSIES – KOUD OF WARM
Vir my is dit maar die lekkerste en beste manier om ‘n hoenderborsie gaar te maak. Die vulsel kan regtig wees waarvan jy hou, hier het ek spinasie, sampioene, knoffel, grasuie en pietersielie in bietjie olyfolie verlep.
1 lepel room, sout en swart peper na smaak bygevoeg en bietjie laat afkoel. Sny die hoenderborsies net halfpad oop, sodat dit ‘n sakkie vorm, skep die vulsel in die oopgesnyde borsie, plaas bietjie gekrummelde fetakaas by die vulsel en steek die opening toe met tandestokkies. Krummel soutkoekies tot fyn en doop die hoenderborsies in eier en in die krummels, pak op ‘n bord en plaas in die yskas vir 30 min. Braai die borsies in ‘n pan met bietjie olyfolie oor matige hitte, stadig sodat dit lekker deurgaar en bruin word. Ek het dit vir middagete saam met kapokaartappels en groente bedien en dit wat oorgebly het, die aand koud bedien, saam met slaai. Dit is regtig so sappig en smaaklik koud of warm. Probeer gerus.
Idee en foto: Rina Kleinhans







Jacqueline Viola Smit
Heerlik. Dit was gisteraand op ons spyskaart. Het myne gevul met shaved ham, kaas en fetakaas. Rol dan in mee, eier en krummels. Ek sit myne ook vir 20-30 minute in yskas, dan spuit ek olyfolie op elkeen en bak dit vir 25min in oond by 180, lekker sappig.