BLOUBESSIE EN FRAMBOOS KRUMMEL NAGEREG
{bedien 6}
Broskors deeg:
300g koekmeel
1/4t sout
230g gesoute botter in blokkies gesny
8t yskoue water
Vulsel:
350g bloubessies (*ek het sommer die boksies gevriesde bessies & frambose gebruik)
350g frambose * (Eng = raspberries)
Sap van 1 suurlemoen
1/3k water
4T bruin suiker
**Opsioneel – 2T mielieblom (Maizena) in bietjie water opgelos om die sous te verdik
Tertbak van 25cm deursnee
Metode:
Maak eers die vulsel sodat dit kan afkoel.
Kook die water, suiker en suurlemoensap in ‘n plat pot net tot die suiker opgelos en voeg al die bessies & frambose by. Kook oor lae hitte vir 10 min. **Hierna het ek 2T mielieblom (Maizena) in bietjie water opgelos en by die bessies gevoeg om ‘n dik stroop te vorm anders is die vulsel te loperig. Laat die vulsel afkoel terwyl jy die deeg aanmaak.
Sif die meel en sout in bak en vryf die botter in met vingerpunte totdat dit soos broodkrummels lyk. Voeg die water stadig by terwyl met vurk die krummels bymekaar kry en ‘n degie vorm. Verdeel in twee gedeeltes, druk saam in ‘n stewige bol deeg en maak toe in plastiek en sit in yskas om koud te word.
Rol die een stuk uit en sit in tertbak. Hier was dit weereens vir my makliker om net die baie krummelrige deeg in die bak in te druk want dit breek maklik as jy probeer uitrol. Skep die afgekoelde vulsel bo-op die deeg in tertbak. ***Rol die tweede stuk deeg uit en sit bo-oop die vulsel. Knyp die kante van die onderste en boonste deeg saam. Maak snitte deur die deeg sodat die stoom kan ontsnap terwyl dit bak. Sprinkel ‘n bietjie bruin suiker bo-oor die deeg en bak op 180°C vir 45 minute of tot deurgebak.
***Dis baie makliker om die tweede bol deeg terwyl dit yskoud is met die growwe kant van ‘n rasper oor die tert vulsel te rasper ipv om dit uit te rol.
Bedien warm of koud met roomys of dik room.
Foto en resep geplaas deur Elsabie Templeton