SJOKOLADE KOEK MET BAKLAVA GEVULDE PANNEKOEK
Koop baklava en sny/druk dit fyn.
Koop pannekoeke met kaneelsuiker in.
Voeg ekstra gemmer, kaneel en naeltjies na smaak by die baklava, meng goed, vul die pannekoek daarmee en rol weer toe (ek het 7 pannekoeke uitgekry met vulsel in).
Maak “Die Klamste sjokoladekoek ooit” vanaf die blog, se beslag aan.
Opsioneel – ek het hierby ‘n ¼ teelepel elk van gemmer, kaneel en naeltjies ook bygesif en helfte van die botter met olyfolie vervang. Ek het ook ‘n ¼ teelepel anys in warm koffie van die resep laat week en later bygevoeg.
Skakel na die koekresep:
https://www.foodloversrecipes.com/2015/03/klamste-sjokolade-koffiekoek-ooit/
Spuit ‘n ringpan met kleefwerende kossproei.
Giet helfte van die beslag in die pan, rangskik die gevulde pannekoeke soos jy verkies, en giet res van die beslag oor die pannekoek. Verseker die pannekoek is deeglik onder beslag ingedruk.
Bak die koek eers teen 180ºC vir 35 min, daarna moet jy dit maar oppiep en dophou en grade verstel totdat ‘n toetspen skoon uitkom, sonder om te brand. My weergawe het bykans 1.5 uur gebak.
Laat die koek redelik afkoel in die pan voordat jy dit uitkeer op ‘n bord.
Smelt 2 x “Milky Bar” slabs, ‘n klontjie botter en 50 ml room saam en bedruip die koek met dit.
Smelt 1 x donker sjokolade, klontjie botter en bietjie room en bedruip oor die wit sjokolade (ek het myne te veel geroer en dit het begin skei, toe plak ek dit gou-gou op die wit sjokolade, hehehe) -volgende keer sal ek eerder net die Bar-One sous maak en dit oor druip.
Nooi jou beste vriende, sny in reuse skywe en verslind gulsig saam met jou gunsteling warm drankie en goeie geselskap.
Nota – Mens kan maklik meer pannekoek insit, want dit sak af tydens die gaar word proses, omdat die beslag so loperig is. Ek was egter bang dit rys te veel uit en mors dan in my oond.
Mens kan bietjie meer anys by die koffie voeg, want ek het dit bykans nie geproe nie. Sal volgende keer ‘n ½ teelepel in die warm koffie laat trek en dan byvoeg.
Resep en foto: Meyer Combrinck