GEVULDE HOENDERBORSIE MET SPEK TOEGEDRAAI
ROOMKAASWORSIE
2 gedroogde appelkose
15 ml (1 e) roomkaas
HOENDERBORSIE
5 -6 repies streepspek
1 hoenderborsie
ROOMKAASWORSIE
Kap die droë appelkose fyn.
Meng die gekapte appelkose met die roomkaas.
Trek ʼn skinkbord met kleefplastiek oor.
Druk lang worsies van die mengsel op die skinkbord uit – gebruik hiervoor ’n spuItsak met ’n opening van sowat 15 mm.
Wenk
Het jy nie ’n spuitsak nie? Skep die mengsel in ’n dik plastieksakkie en druk in een van die onderste hoeke in. Draai die sakkie net bo die vulsel ’n paar keer sodat die vulsel nie kan terugstoot as jy dit begin uitdruk nie. Sny die puntjie van die sakkie af sodat dit ʼn opening van 15 mm vorm, en siedaar.
Plaas oornag in die vrieskas en los daar tot jy dit nodig het; minstens oornag.
Wenk Ek rol myne altyd in kleefplastiek toe, dan kan dit weke lank in die vrieskas gehou word.
Voorverhit die volgende dag die oond tot 180 °C.
HOENDERBORSIES
Plaas die borsies op ʼn snybord met die velkant na bo. Die dik, ronde kant moet na jou snyhand wys.
Meet met ’n skerppuntmes die diepte van die snit wat jy gaan maak.. Hou jou duim op die mes waar jy moet stop.
Druk die mes in die middel van die borsie in. Maak seker dat jy dit nêrens regdeur die borsie steek nie, die gepunte kant van die borsie moenie stukkend gesteek word nie.
Meet ʼn stuk van die gevriesde roomkaasmengsel af . . .en druk dit binne-in die borsie.
Pak 4 of 5 repies spek op jou snybord met 1 dwars bo-oor die eerstes.
Plaas die borsie bo-op die dwars spekrepie en vou die spek oor die punte van die borsie.
Vou nou die hele borsie toe met die res van die spek.
Sodra die hele borsie knus in spek toegedraai is, plaas dit op ’n stuk foelie van 30 cm x 30 cm en draai stewig toe.
Bak dit 45 minute in die oond tot gaar.
Laat die hoender afkoel en plaas in die yskas tot jy dit vir die braai nodig het.
Plaas die foeliepakkies op die rand van die rooster en teen die tyd dat jou ander vleis gaar is, behoort die borsies heerlik warm te wees. As jy bang is dat hulle nie warm genoeg gaan wees nie, verhit hulle teen ’n lae temperatuur in die oond voor jy hulle op die rooster plaas.
Hou jou lyf reg vir komplimente.
Bron en Foto: Die Vet Sjef – Albert Buitenbuis
Ek hoop julle geniet hierdie metode en onthou om pret te hê met die kos maak saam, dis nie moeilik nie en dis belangrik.
geskuif