

ROLKOEK MET VARIASIE
4 eiers, geskei
50 ml koue water
250 ml strooisuiker
250 ml ongesifte koekmeel
5 ml bakpoeier
knypie sout
5 ml vanielje
150 ml fyn konfyt
Smeer ‘n rolkoekpan van 30 x 45 cm, voer dit met waspapier uit en smeer papier ook. Bestuif met ‘n bietjie koekmeelblom en skud oortollige meel van papier af. Stel oond op 200°C en plaas oondrak in middel van oond.
Klits eiergele, water en strooisuiker baie goed saam tot dit bleekgeel en sponsagtig dik is. Sif meel en bakpoeier saam en vou dit bietjies-gewys met ‘n metaallepel in eiergeelmengsel in. Klits eierwitte en sout saam net tot stywe punte vorm. Roer ‘n bietjie van die eierwit by eiergeelmengsel in en vou res van eierwit en vanielje dan liggies in. Skep deeg in pan en smeer gelyk . Bak 10 minute. Keer uit op ‘n klam doek wat met suiker bestrooi is. Trek papier versigtig af en sny kort sye met ‘n skerp mes netjies. Verhit konfyt en smeer oor koek. Rol koek versigtig met behulp van die doek op. Sny kante netjies en laat minstens 30 minute op ‘n draadrak afkoel.
Die geheim van rolkoek is om dit nie lank te bak nie en baie vinnig daarmee te werk na dit uit die oond gehaal is.
Vir die sjokolade rolkoek variasie:
Vervang die koue water deur dieselfde hoeveelheid sterk, swart koue koffie en koekmeelblom deur 120 g (250 ml gesifte) koekmeelblom en 20 g (50 ml) kakao.
Foto: Petro van Genderen







Geskuif