


SJOKOLADE-KAASKOEK MET NET 3 BESTANDDELE
genoeg vir 1 groot koek
225 g melksjokolade
230 g roomkaas, teen kamertempratuur
6 eiers, geskei
Stap 1
Verhit oond tot 180 ºC. Voer ’n 20 cm-losboomkoekpan met bakpapier uit, asook ’n strook reg rondom in die pan. Spuit dit goed met kleefwerende kossproei.
Stap 2
Smelt sjokolade in mikrogolfoond (roer elke 10 sekondes) of oor ’n pot met kookwater. Voeg die warm sjokolade by die roomkaas.
Stap 3
Klits die mengsel met ’n draadklitser tot gladde voorkoms.
Stap 4
Voeg eiergele by en klits mengsel weer tot glad – maak seker daar is geen klonte in die mengsel nie
Stap 5
Klits eierwitte met elektriese menger tot sagte punte vorm. Skep 1 groot lepel vol van die eierwitskuim by sjokolademengsel en roer dit in – dit maak die mengsel los voor ons die res van die eierwitte invou.
Stap 6
Vou oorblywende eierwitte met groot metaallepel in sjokolademengsel in – werk in ’n vorm 8 sodat jy so min moontlik lug verloor. (Sover lyk die resep vir my of hy gaan werk, ek proe sukses!)
Stap 7
Plaas uitgevoerde pan in groot oondroosterbak en gooi vulsel in pan. Vul die oondroosterbak met kookwater – sowat halfpad hoog teen die koekpan se rand. Bak vir 40 minute of tot hy gestol lyk – ek het ná 35 minute gekyk en dit nog 5 minute gelos. Skakel jou oond nou af en los dit in die toe oond vir nog 15 minute.
Stap 8
Haal die kaaskoek uit die waterbad en laat dit heeltemal afkoel op ’n draadrakkie – dit wil vir my lyk of ons regtig sukses behaal het. Buiten die groot bars op die oppervlak wat my pla, reken ek ons het ’n wenner hier beet …
Stap 9
Plaas afgekoelde kaaskoek in yskas vir sowat 4 uur – die wag is die grootste werk!
Stap 10
Die oomblik van waarheid: ek haal die pan se ring af en skil die papier versigtig weg. PERFEK! ’n Veerligte sjokolade-kaaskoek. Plaas op ’n opdienbord en sif bietjie kakao oor.






