
PERLEMOEN OF KLIPKOS
Perlemoen wat ook “Abalone” genoem word, is ‘n gewilde fynkos onder daardie Suid-Afrikaners wat werklik die kuns verstaan om dit goed voor te berei. Perlemoen is ‘n groot weekdier wat in die koue waters van die Kaapse kus aan die rotse kleef. Wanneer die skulpe goed skoongemaak is, maak hulle aantreklike houers vir die perlemoengereg.
Om perlemoen skoon te maak
1. Maak perlemoenvleis met skerp voorwerp los van skulp
2. Haal vleis uit skulp en verwyder ingewande
3. Skrop perlemoen deeglik met ‘n stywe borsel
4. Sny perlemoen in plat skywe; kap vleis goed sag
Gebruik ‘n ou beitel of ‘n sterk plankie wat soos ‘n beitel gefatsoeneer is en steek dit onder die vleis in om dit van die skulp los te maak. Indien moontlik, moet die vleis dadelik nadat die perlemoen uitgehaal is, losgemaak word en op die rotse skoongeskuur word. As dit nie prakties is nie, laat perlemoen lê in ‘n emmer koue water waarin 1 eetlepel koeksoda opgelos is. Verwyder ingewande en skrop vleis met ‘n draad- of ander harde borsel af totdat dit wit en skoon is. Skenk spesiale aandag aan die fraiings omdat hulle altyd sanderig is. Sny vleis in dun skywe en kap dit goed om dit sag te maak.
Om perlemoen gaar te maak
1. Plaas gekapte skywe in kastrol sonder water of sout, sit deksel op en verhit op lae hitte. Die vleis sal self genoeg vloeistof vrylaat om dit gaar te maak. Laat 20-30 minute lank, of tot sag, prut. Gooi nou sout, baie botter, gerasperde neut en ‘n bietjie wit wyn by en verdik sous met sagte witbroodkrummels. Bedien op rys.
2. Gooi ½ koppie water in drukpot, sit rakkie in en plaas perlemoenskywe bo-op. Maak onder druk gaar (15-20 minute). Geur en verdik sous soos beskryf.
3. Bevries heel perlemoen, sny in baie dun skywe, kap, rol in meelblom en eier en bak vinnig (net 1 minuut lank aan elke kant) in warm botter. Hoe langer die gaarmaakperiode, hoe taaier word die vleis. Moenie die delikate geur van die perlemoen met kruie of ander sterk geurmiddels verdoesel nie, tensy u graag ‘n nuwe smakie wil uitprobeer.
4. Nog ‘n manier om perlemoen gaar te maak, is om die vleis te maal en dan gaar te stowe, of om dit eers gaar te maak en dan te maal. Geur soos beskrywe of verwerk gemaalde perlemoen tot frikkadelle en bak in die pan.
Foto: Lelane van der Walt






