

WILMA SE GEVULDE TAMATIES
My gevulde tamatie. Ek dink dit gaan ‘n heerlike voorgereg wees.
6 medium grootte FERM tamaties
1 klein uitjie opgekap
2 eetlepel botter
500 g ertjies
1 eetlepel gekapte kruisement
sout en peper na smaak
1 eiergeel
Calamata Olywe vir garnering
Was en droog die tamaties deeglik. Sny die kroontjie af, hol die vlees uit en draai om sodat die oortollige sappe kan uitloop. (bêre die pulp vir latere gebruik).
Kook die ertjies tot net gaar in bietjie soutwater en laat afkoel.
Braai die ui tot deurskynend maar nie bruin nie. Voeg die ertjies en kruisement by en braai vir 5 minute.
Verpulp die ertjiemengsel. Skep terug in die pan waarin die ui gebraai is, geur met sout en peper.
Klits die eiergeel liggies en voeg by die ertjiemengsel. Roer deur.
Haal van die stoof af en los om af te koel en te stol.
Sprinkel sout en peper aan die binnekant van die tamaties.
Skep lepelsvol ertjiepulp in die tamatie holtes.
Sit die “dekseltjies” van die tamaties op en steek vas met ‘n tandestokkie.
Bak in ‘n gesmeerde oondvaste bak by 180ºC vir 10 min.
Die tamaties moet nog ferm wees
Verwyder die dekseltjies en steek ‘n olyf in elke punt van die tandestokkie.
Bedien dadelik.
Foto en resep: Wilma Josey Venter






