

GRONDBOONTJIEBOTTER EN APPELKOOSKONFYT SJOKOLADE KOEK
Weer een van my moerby koeke
125 g botter/margarien
250 ml strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
3 ekstra groot eiers
80 ml appelkooskonfyt
80 ml grondboontjiebotter (Ek het die met die stukkies grondboontjies in gebruik)
375 ml koekmeel
3 ml bakpoeier
5 ml koeksoda
2 ml sout
125 ml kakao
250 ml karringmelk
Klop die botter, strooisuiker en geursel saam tot romerig. Voeg eiers een-vir-een by en klop goed na elke byvoeging. Voeg die konfyt en grondboontjiebotter by en klop tot glad.
Sif die meel, bakpoeier, koeksoda, sout en kakao saam en voeg om die beurt met die karringmelk by die eiermengsel. Meng tot glad. Skep in ‘n ronde gesmeerde en gevoerde 23 cm-veerklamppan.
Bak 45 minute in ‘n voorverhitte oond by 180°C. Laat effens in die pan afkoel en keer dan op ‘n draadrak uit om verder af te koel.
Nota: Ek het 2 koeke gebak. Dit is ‘n 3 laag koek. Die 4de laag hou ek vir myself, lol Eerste laag: 3/4 blikkie Caramel treat oor die onderlaag gesmeer, dan 250 ml styfgeklopte room, sit 2de laag op. Op 2de laag: peer en aarbeikonfyt en weer 250 ml styfgeklopte room. Sit laaste koek laag bo-op. Bo-op het ek ‘n roomkaas versiersel gesmeer en ‘n lekker dik ganache bo-oor gegooi om af te loop, ek het nie die kant versier nie. Vars aarbeie bo-op rangskik en van die roomkaasversiering tussenin gespuit.
BRON – Petré van Jaarsveld






