

GERDA SE KOEKSISTERS
Lewer 18 dosyn medium koeksisters
Stroop:-
12 koppies louwarm water
24 koppies witsuiker
1 teelepel sout
1 teelepel kremetart
1 teelepel gliserien
Meng al die bestanddele en bring tot kookpunt. Kook vir 10 minute. Verwyder van die hitte en laat oornag afkoel. Gebruik die volgende dag by kamertemperatuur.
Koeksisters:-
125 g botter
300 ml kookwater
300 ml koue water
4 eiers
300 ml louwarm water
9 koppies koekmeel
2 ½ eetlepels bakpoeier
½ eetlepel sout
½ eetlepel kremetart
10 koppies goeie kookolie vir bak. (Ek gebruik ‘n deepfryer – 160°C)
Smelt die botter in die kookwater. Verwyder van die hitte en voeg die koue water by. Klits die eiers en die louwarm water saam. Sif al die droë bestanddele saam. Voeg die botter- en die eiermengsel by die droë bestanddele en roer met die hand tot goed gemeng. Vorm ‘n elastiese, maklik werkbare deeg en laat rus vir 30 minute. Rol of vleg die koeksisters na keuse. Verhit die olie en diepbraai die koeksisters goudbruin aan die een kant, draai om en braai hulle tot dieselfde kleur aan die ander kant. Skep die koeksisters met ‘n gaatjieslepel uit die olie en dompel hulle dadelik in die stroop. Die koeksisters moet warm tot die ponder in die stroop gedruk word. Skep die koeksister versigtig uit en laat die oortollige stroop op ‘n sif afdrup. Hierdie koeksisters is heerlik net so warm, afgekoel of uit die yskas. Dit vries baie goed.
Bron: Gerda Swanepoel
Foto: Petré Van Jaarsveld
Rita Labuschagne:
Jy gaan 900 ml water gebruik.
300 ml kookwater om die botter te smelt
300 ml koue water om bogenoemde af te koel
300 ml lou water om die eiers in te klits, want as die water té warm is, gaan jy roereier kry.
Die deeg is sag. Werk maar op gevoel. En sien die deeg het ‘n warm gevoel as dit klaar geknie is.







Ek het n klein bietjie gesukkel met hierdie resep. Maar dit was wel my eerste keer wat ek koeksisters bak! Die eerste keer het ek dit presies gevolg. Hulle het mooi uitgekom maar nie soos wat ek gehoop het. (Ek onthou toe ek nog in SA gebly het, was daar n padstal net tussen Clanwilliam en die Kaap, en die tannie daar het DIE BESTE koeksisters gemaak. Sy’t vir my eendag vertel die geheim is in die stroop!)
Ek het dit weer probeer maak maar die keer het ek die stroop in 2 gedeel en die bakke bo-op ys gesit om dit so koud as moonlik te hou. Dit het wonderlik gewerk!