SPRINGBOKFILET IN SPEK EN ROOSMARYN
Genoeg vir: 8-10
• 1 heel springbokfilet (1-1,5 kg)
• 4 takkies roosmaryn
• 500 g swoerdlose strepiespek
• gebraaide aartappelwiggies en geroosterde uie om voor te sit
• korrelmosterd om voor te sit
Marinade
• 5 ml kerriepoeier
• 10 ml mosterdpoeier
• 3 ml droë tiemie
• 7 ml droë origanum
• 10 ml zeal (vleissagmaakmiddel)
• 30 ml bruinsuiker
• 70 ml bruin asyn
• 30 ml blatjang
• 120 ml tamatiesous
• 130 ml worcestersous
• 300 ml olyfolie
1 Marinade Meng al die droë bestanddele saam. Voeg 10 ml sout by. Voeg die vloeibare bestanddele by en roer goed. Gooi in ’n glasfles en hou in die yskas tot jy dit gaan gebruik.
2 Sny die senings versigtig met ’n skerp mes van die vleis af. As die filet te lank is, sny dit middeldeur.
3 Sit die vleis in ’n bak en bedek dit met die marinade. Laat vir twee tot drie uur marineer.
4 Haal die vleis uit die marinade en skraap die oortollige marinade met die agterkant van ’n mes af. Geur met varsgemaalde swartpeper. Sit die takkies roosmaryn al langs die filet neer. Draai die spek om die vleis en roosmaryn en steek dit met tandestokkies vas.
5 Braai die vleis oor warm kole gaar – omtrent 12 minute vir medium-gaar. Jy kan dit ook onder die oond se element sit. Verf die res van die marinade oor sodra die spek bruingebraai het. geur met sout. Haal van die kole af en laat rus vir 10 minute. sny in skywe en sit voor met aartappelwiggies, geroosterde uie en korrelmosterd.
Resep geplaas deur Elsabie O’Neill Ackerman
Foto’s: Elsabie O’Neill Ackerman
Hier is die heerlike resep wat ek gemaak het. Ek het net gesnipperde spek wat ek gehad het ipv repe spek gebruik.