SOSATIES VAN SKAAPVLEIS
Hierdie Sosatieresep is my eie ou moeder se resep en ek sou graag eendag terugvoering wou kry, wat julle van dit dink as julle dit gemaak het, want dit is HEERLIK.
1 skaapboud, ontbeen en in blokkies gesny (pasop vir te klein, want vleis krimp as jy dit braai)
blokkies varkspek
3 groot uie, in vierkante gesny sodat dit maklik inryg
3 knoffelhuisies, baie fyn gekap
1 eetlepel kerriepoeier
1 teelepel sout
½ teelepel peper
knypie rooipeper
1 eetlepel suiker
10 eetlepels vark, bees of skaapvet
1 eetlepel appelkooskonfyt
4 eetlepels asyn
2 koppies droë rooiwyn
gedroogte appelkose of perskes
sampioene en pynappelstukke, opsioneel
Week die appelkose oornag in die wyn.
Braai die uie en knoffel in ‘n bietjie van die vet.
Roer die kerriepoeier, konfyt en asyn saam en voeg by.
Braai liggies.
Voeg die res van die vet, sout en pepers by, tot al die vet warm en gesmelt is.
Giet oor die vleis, spek, en roer vinnig in want die vet stol gou.
Marineer in yskas vir 3 dae.
Ryg dan om die beurt, vleis, spek, ui,vrug.
Braai oor kole tot gaar.
Ek het al beesvleis ook gebruik, maar skaap bly die lekkerste.
Sy het dit haar vryf sosatie genoem, omrede dit nie in ‘n sousigheid lê nie, en beweer dat enige sousigheid vleis taai maak.
Resep: Louisa Prenzler








